Meer as 100 Afrikane het ‘n tweemaande hongerstaking beëindig in ‘n parkeerarea van ‘n universiteit van Brussel, na hulle driemaande verblyfpermitte gekry het, het ‘n woordvoerder Donderdag gesê.
“Hulle het gisteraand hulle eerste ete genuttig, maar sal met tyd na dikker sop beweeg. Die prioriteit is om hulle gesondheid terug te kry sodat hulle werk en blyplek kan kry en weer normaal kan funksioneer,” het Omar Diarra, ‘n woordvoeder vir die protesteerders gesê.
Die skuif was ‘n ommekeer vir die immigrasiekantoor wat voorheen gewaarsku het dat om toe te gee aan die eise van die hongerstakers net soortgelyke protesaksies sal veroorsaak.
Die besluit om driemaande permitte toe te staan is geneem vir “mediese en humanitêre redes”, het die kantoor wat onder die Belgiese minister van binnelandse sake val, gesê.
Soortgelyke stakings, wat hoofsaaklik uit Afrika se, maar ook Latyns-Amerikaanse immigrante bestaan, gaan egter elders voort in kerke en universiteite in die Belgiese hoofstad.
Die 103 wat permitte gekry het, het Donderdagoggend op matrasse gelê in die ondergrondse parkeerarea by die Vrije Universiteit in Brussel, waar hulle sedert 16 Februarie was.
Omtrent 600 mense wat verblyfpermitte soek het protesaksies begin by verskillende plekke in Brussel, met sommiges wat alle voedsel behalwe suikerwater en tee weier sedert middel Februarie.
