Waarom wil die ANC wettige vuurwapeneienaars ontwapen?

ImageDie uitspraak van mnr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus oor die chaos wat by die vuurwapenregister heers, plaas die ANC-bewind se angsvallige pogings om wettige vuurwapeneienaars te ontwapen in perspektief.

Die onrealistiese afsnydatum van 31 Maart vir die herlisensiëring van 4 miljoen vuurwapenlisensies is besig om paniek by die publiek te veroorsaak en vrese te laat ontstaan dat die ANC dalk met een of ander onderduimse plan teen veral minderheidsgroepe aan die gang is.

Geweldsmisdaad in die land word gepleeg deur diegene met onwettige vuurwapens wat vrylik in omloop is of oor ons landsgrense gesmokkel word. Na raming is daar 100 miljoen vuurwapens in Afrika wat deur die grootmoondhede tydens die vele oorloë en konflikte op die vasteland uitgedeel is.

Ras speel ook 'n rol by die ANC-bewind se veldtog teen wettige vuurwapens, want die meeste eienaars van sulke wapens behoort aan minderheidsgroepe soos blankes en Afrikaners.

Geweldsmisdaad, daarenteen, word in 99% van gevalle deur swartes – met onwettige vuurwapens – gepleeg. Dié prentjie is kommerwekkend, omdat dit wil voorkom asof die regering blankes met wettige vuurwapens wat hier en daar poog om hulle en hul gesinne teen geweldsmisdaad te verdedig, te ontwapen en hulle sodoende weerloos te laat.

Nie net gaan ons weerloos gelaat word teen geweldsmisdaad nie, maar ook teen georganiseerde optrede deur die regering of militante groepe soos die ANC-jeugliga wat ná die ontwapening die vrypas gaan hê om plase of woongebiede te beset of selfs 'n volksmoord te pleeg.

Ons mag nie vergeet dat, hoewel Europeërs en Asiërs ook verskeie gruwelike volksmoorde gepleeg het, volksmoord en massamoord in die onlangse tyd sinoniem met Afrika geword het nie. Rwanda, Ethiopië, die Kongo se Ituri-provinsie en Darfoer is nog vars in die geheue.

Ons ervaar elke dag op soveel gebiede en veral in die getransformeerde staatsdiens hoeveel haat daar tans onder die oppervlak teen blankes en veral Afrikaners sluimer.

Die vraag kan dus openlik gevra word: wil die ANC ons ontwapen omdat hy, hetsy plaasbesettings op die Zimbabwe-manier, hetsy etniese suiwering teen ons beplan?

In die negentiende eeu het die Britse koloniale owerheid by verskeie geleenthede swart stamme teen die Boere in die binneland aangehits en vrylik wapens aan sulke stamme verkoop, terwyl daar terselfdertyd 'n wapen- en kruitboikot teen die Boere ingestel is. Dan is daar nog die fameuse voorbeeld van Piet Retief wat sy wapens buite Dingaan se kraal gelaat het.

Waarom kry ons die indruk dat die geskiedenis besig is om hom te herhaal? Is die vrolike partytjie wat Dingaan vir ons aanbied dalk binnekort nie meer so vrolik nie?

Tydens die wanorde van die negentiende eeu toe massamoorde in die binneland tussen swart stamme en op blanke pioniers byna alledaags was, kon ons voorouers hulself net handhaaf en uiteindelik oorleef danksy die feit dat hulle wapens besit het.

Vele mense – waaronder Tim du Plessis van Beeld – is besig om in te sien dat Suid-Afrika reeds 'n mislukte staat van die Afrikatipe geword het.

Die risiko vir gewone burgers en veral lede van minderheidsgroepe om hul wapens aan 'n staat te oorhandig wat by monde van sy vorige hoof, Thabo Mbeki, van hulle as "setlaars" en 'n "koloniale heersersklas" gepraat het, is ooglopend.

Saam met die Vryheidsfront eis ons dat 'n behoorlike lisensiëringsproses daargestel word wat nie daarop gemik is om die publiek en minderheidsgroepe te ontwapen nie.

Ons doen ook 'n beroep op elke wettige wapeneienaar om nie sy of haar wapens sonder meer in te handig nie. Indien die polisie hardhandig begin optree teen mense wat weens die (doelbewuste?) onvermoë van die staat om lisensie-aansoeke te prosesseer die wapenwet oortree het, sal die skrif aan die muur wees vir die staat wat in 1994 tot stand gekom het.

Die demokratiese masker sal daarmee afgeruk wees en die staat se vyandigheid jeens minderheidsgroepe sal voor die hele wêreld ontbloot wees.

Die potensiaal vir etniese konflik in die land indien die polisie tot sulke optrede sou oorgaan, wat waarskynlik kort daarna deur plaasbesettings soos in Zimbabwe gevolg sal word, spreek ook vanself.

Boere, politieke partye en Afrikaanse organisasies moet nou saamstaan en baie reguit met die regering praat oor die dooiepunt en veral die vrese wat die ANC se wapenwet geskep het.

циклевка и реставрация паркета ценаtopcargo отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae