Die hoof van die Afrika-uniekommissie, Jean Ping, het Woensdag die uitslag van die gesamentlike militêre operasie deur Rwanda en die DRK teen Rwandese Hoetoe-rebelle verwelkom.
“Ons ondersteun die vredesproses wat in die Kongo aan die gang is. Ons is bly om te sê dat die oplossing wat aanvaar is om die krisis te hanteer in die ooste van die land baie naby is aan wat ons aanbeveel,” het Ping aan joernaliste gesê.
“Die resultate as ‘n geheel beskou is positief,” het hy bygevoeg.
“Ons dink dat die Kongo vrede moet ervaar na amper 15 jaar van oorlog, en met 5 miljoen dood. Daar moet 'n einde aan die lyding van die Kongolese gemaak word,” het hy gesê.
Die offensief teen die Hoetoe-rebelle, die demokratiese magte vir die bevryding van Rwanda (FDLR) – wie se lede mense insluit wat skuldig is aan die 1994-volkslagting in Rwanda teen veral die minderheid Toetsies – het op 20 Januarie begin.
Amptenare het gesê 135 rebelle en 8 alliansiesoldate is in die operasie dood.
