Zimbabwe sal dit oorweeg om die Zim-dollar te koppel aan die rand, maar gaan nie die rand as geldeenheid aanneem nie, het president Robert Mugabe gesê in ‘n onderhoud wat Donderdag gepubliseer is.
“Ek kan nie sien dat ons die rand as ons hoofgeldeenheid aanvaar nie. Selfs in Sadu, die Suider-Afrikaanse doeane-unie het lede hulle eie geldeenheid, al gebruik hulle die rand,” het Mugabe aan die Harare-gebaseerde Herald Online gesê.
“Botswana het sy pula, Namibië het sy dollar, Lesotho, Swaziland, hulle almal het hul eie geldeenhede. Maar hulle baseer dit op die rand, en dit is iets wat ons kan oorweeg om hier te doen.”
Mugabe het gesê “op die oomblik gebruik ons alle internasionale geldeenhede".
“Toe die idee geopper is om mense in Amerikaanse dollar te betaal was ek daarteen en ek is steeds gekant daarteen omdat ons net nie genoeg buitelandse geld het nie. Dit is ‘n probleem wat ons selfs nou in die gesig staar.”
“Persoonlik dink ek ons behoort die Zim-dollar te herwaardeer op ‘n manier wat dit vir ‘n tyd lank sal vasmaak in ‘n verhouding met die rand. Ons sal dit vir ‘n tyd beskerm terwyl ons produksie verhoog. Maar ons moet dit beskerm.”
Mugabe het gesê sommige Zimbabwiërs het begin om te spekuleer met die Zim-dollar.
“Die probleem is dat mense van Zimbabwe spekulante geword het. Daar is sommige mense, wat as mens sê die Zim-dollar is vier teen een met die rand, hulle dit onmiddellik agt of tien tot die rand sal maak.”
“So vind die eskalasie op ‘n daaglikse basis plaas. Ons behoort die waarde van die plaaslike geld vas te maak volgens wet en dit vir nou daar te hou. Ek wil dit met die minister van finansies , Tendai Biti, bespreek.”
“En hoe maak mens dat dit werk? Deur produksie te verhoog in landbou, vervaardiging, mynwese, en die mense kan goedere en dienste verkry en dan kan mens dit blootstel aan fluktuerings in die mark,” het Mugabe gesê.
