Die minister van binnelandse sake Novisiwe Mapisa-Nqakula het Maandag by die konstitusionele hof aansoek gedoen vir verlof tot appèl teen die uitspraak van die Pretoriase hofbeslissing dat Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon die reg het om te stem, het SAUK-nuus berig.
Waarnemende regter Piet Ebersohn het vroeër vandeesmaand bevind dat dele van die verkiesingswet en verkiesingsregulasies ongrondwetlik is.
Dit was omdat hulle mense wat op kort besoeke is aan die buiteland en diplomatieke personeel in die buiteland toelaat om te stem, maar nie ander burgers wat in die buiteland woon nie.
Die Vryheidsfront Plus wat agter die hofsaak is, vra nou dat die konstitusionele hof die uitspraak moet bevestig.
In die kennisgewing aan die hof wat Maphia-Nqakula Maandag ingedien het, beweer sy dat Ebersohn foute gemaak het in byna al sy bevindings.
Onder die foute is dat om sekere klasse van mense nie toe te laat om te stem nie polities van aard is, en dat om net sekere mense toe te laat om te stem diskriminasie is.
Die minister het ook die aansoeke van ander politieke partye teengestaan wat by die saak wil aansluit ter ondersteuning van die VF+.
Die konstitusionele hof het Woensdag en Vrydag volgende week opsy gesit om al die aansoeke te hoor.
