Minister van veiligheid en sekuriteit Nathi Mthethwa moes Sondagmiddag fisies tussenbeide tree om botsings tussen IVP- en ANK-ondersteuners te verhoed in KwaZulu-Natal se Mselenigebied.
Die minister het gehelp om 'n potensieel plofbare situasie te voorkom toe 'n handvol IVP-ondersteuners probeer het om ANK-ondersteuners te verhoed om die stadion te verlaat waar hulle 'n saamtrek gehou het.
Die twee partye het saamtrekke gehou net meters van mekaar af, ten spyte van die Pietermaritzburgse hofuitspraak wat Saterdag 'n interdik toegestaan het waarvolgens die IVP verhoed is om 'n saamtrek te hou minder as 5 kilometer van die ANK se saamtrek.
Die ANK het die hof genader om die IVP te verhoed om 'n saamtrek te hou naby die Nselenistadion, omdat daar insidente van geweld uitgebreek het toe die IVP en ANK hulle saamtrekke naby mekaar gehou het.
Kaptein Jay Naicker het gesê die IVP-saamtrek was 'n onwettige vergadering, en het bygevoeg dat hulle 'n hofbevel verontagsaam het. Hy het gesê die polisie ondersoek 'n geval van 'n onwettige vergadering.
Die polisie het geen arrestasies gemaak nie, en ook nie die vergadering van die IVP uitmekaar gejaag nie.
Daar was swaar teenwoordigheid van polisie en soldate op die toneel gedurende die saamtrekke op Sondag, wat meer as 5000 mense gelok het.
