AU help om al-Sjabaab uit Somaliese dorp te verdryf

Die Somaliese nasionale weermag (SNA), met die ondersteuning van troepe van die Afrika-uniesending in Somalië (Amisom) het Dinsdag die Mir-tugo-nedersetting in die sentrale deel van die Middel-Shabellestreek van Al-Sjabaab militante ingeneem.

Volgens ‘n weermagoffisier, Abdullahi Mohamed, is geen weerstand van die militante ondervind nie.

Die jongste militêre verwikkeling kom op die vooraand van verkiesings vir die Somaliese laerhuis van die parlement in die dorp, Jowhar, die hoofstad van die Middel-Shabelle-streek.

Die Islamitiese Al-Sjabaab is reeds uit belangrike dorpe in landelike gebiede in die suide en sentrale dele van Somalië verdryf, maar voer steeds gereelde aanvalle in die land uit.

Die Islamiete het ook onderneem om die verkiesings in Somalië te ontwrig. Dit het daartoe gelei dat die gesamentlike magte strenger veiligheidsvoorbereidings by stempunte ingestel het.

Somalië berei voor op ‘n presidentsverkiesing op 30 November. Parlementêre verkiesings word deurlopend in verskeie dele van die land gehou.

Maak 'n opvolg-bydrae