Johannesburgse metropolisiebeamptes het belowe om Maandag voort te gaan met hulle staking, ten spyte daarvan dat die arbeidshof die staking onwettig verklaar het.
"Sover dit ons betref is die staking nog nie verby nie," het Samwu-woordvoerder Dumisani Langa gesê.
Hy het gesê die metropolisie sal by Beyers Naudeplein in sentraal-Johannesburg vergader om hulle eise bekend te maak.
Die staking het verlede week Maandag begin en die sluiting van lisensiekantore en toetsstasies veroorsaak in en om Johannesburg. 'n Hof het Vrydag beveel dat die staking beëindig moet word.
Langa het gesê verklarings van die Stad Johannesburg dat 'n oplossing bereik is, vals was.
"Hulle [Stad Johannesburg] het aan ons 'n voorstel gestuur oor hou die saak besleg kan word… maar ons het nog geen vergadering gehad om wat hulle 'n ooreenkoms noem te bereik nie," het Langa gesê.
Die Stad Johannesburg se woordvoerder Nthatisi Modingoane hou vol dat 'n ooreenkoms bereik is.
"Die staking is nou onbeskermd. Dit beteken dat indien mense bymekaar wil kom en 'n opmars hou ons dit nie sal goedkeur nie. Die Suid-Afrikaanse polisie moet nou die wet aan die metropolisie voorhou," het Modingoane gesê.
Hy het gesê 'n resolusie is bereik op al Samwu se eise, insluitend die skorsing van twee seniorbestuurders wat beskuldig word dat hulle ingemeng het in ondersoeke.
