‘n Vragskip wat deur die Israelse vloot onderskep is terwyl dit probeer het om deur die Israelse blokkade van Gasa te breek het Donderdag in die hawestad Ashdod met ‘n vloot-eskort gedok.
Die vragskip Tali, wat onder die vlag van die Wes-Afrikaland Togo gevaar het, is in die hawe in gesleep. Israel het die kusgebied langs Gasa gesluit vir enige buitelandse skepe en het aan boord van die vaartuig gegaan.
Dit was die eerste oënskynlike poging van ‘n buitelandse skip wat hulpmateriaal vervoer om die Palestynse enklawe te bereik sedert Israel die 22-dae-offensief in Gasa 2 weke gelede beëindig het.
Die Israelse minister van verdediging, Ehud Barak, het bevestig dat “die vloot aan boord van die vaartuig gegaan het, dit voorgekeer het” en beveel het om na Ashdod te gaan.
Twee gewapende vaartuie het dit vergesel.
Al-Jazeera-televisie, wat in Dora gestasioneer is het ‘n korrespondent aan boord van die vaartuig, beweer dat die Israelse vloot skote afgevuur het en toe aan boord van die Tali gegaan het, waar passasiers en bemanning geslaan is.
“Hulle skiet op die vaartuig … daar is Israelse soldate wat aan boord van die vaartuig gekom het,” het Salam Khoder gesê.
“Drie van hulle rig hulle wapens op ons… Hulle slaan die mense wat aan boord is, hulle slaan en skop ons,” het Khoder gesê.
Die Libanese eerste minister Fouad Siniora het die aksie veroordeel.
“Daardie mense wat slagtings teen onskuldige burgerlikes in Libanon en Gasa voer, kan nie hulleself beteuel om in die aangesig van die wêreld ‘n skip wat humanitêre voorraad vervoer aan te val nie”, het hy gesê.
Daar was verskeie pogings deur simpatiseerders van Gasa se 1,5 miljoen Palestyne om deur die Israelse blokkade van die Gasastrook te breek oor die laaste paar maande.
Israel hou streng beheer oor Gasa se toegang tot die buitewêreld, waarin daar aangedring word dat geen geld, staal of ander materiaal wat deur Hamas gebruik kan word om wapens te maak wat teen Israel aangewend kan word, toegelaat word nie.
