'n Visserman se boot het Dinsdag gesink nadat dit getref is deur 'n boom uit die lug uit by Drie Riviere in Vereeniging, het ER24-nooddienste gesê.
'n Woordvoerder, Werner Vermaak, het gesê die insident het omtrent 2:30 nm plaasgevind terwyl die man besig was om vis te vang. 'n Windvlaag het die boom in die lug in gewaai en dit het op sy boot beland, wat begin sink het.
Hy het die nooddienste geskakel wat paramedici en 'n soek-en-reddingspan van die brandweer na die toneel gestuur het.
By die toneel het noodwerkers nie die man of sy boot gevind nie.
"'n Soek- en reddingspan het in die water gegaan en na die man begin soek. Sowat 'n uur later is die man in die water gevind en gered," het Vermaak gesê.
Die man het aan nooddienstepersoneel gesê dat hy gelukkig is om nog te lewe.
Die man het geen beserings gehad nie en is op die toneel vir skok behandel, het Vermaak gesê.
