George Obama, die Keniaanse halfbroer van president Barack Obama sal nie aangekla word na hy die naweek in ’n dwelmklopjag gearresteer is nie, het polisie Maandag gesê.
“Hy is gevang saam met ʼn paar ander jongmense en een van hulle was in besit van dagga gevind,” het Keniaanse polisiewoordvoerder Eric Kiraithe gesê.
“Hulle is deur die polisie ondervra, maar dit is ʼn geringe oortreding.”
George Obama is Saterdag in die Keniaanse krotbuurt Huruma gearresteer. Hy sê dat hy aktief is in jeuggroepe en opleiding ontvang om ʼn werktuigkundige te word.
Sy storie het verlede Augustus groot opgewondenheid veroorsaak toe die Italiaanse uitgawe van Vanity Fair hom opgespoor het en beweer het dat hy op minder as ʼn dollar per dag lewe.
Amerikaanse konserwatiewe politici het probeer om die berigte te gebruik in aanvalle op Barack Obama in sy verkiesingsveldtog.
Die twee mans het dieselfde pa, Barack Obama Senior, hoewel nie een van hulle hom eintlik goed geken het nie.
Barack Obama Senior het padgegee toe sy seun net ʼn kleuter was en twee dekades later eers vir George Obama gekry. Hy is in ʼn motorongeluk dood in 1983 toe George net 6 maande oud was.
President Obama word as ʼn held gesien in Kenia, waar baie van sy uitgebreide familie steeds in ʼn klein dorpie, Kogelo woon.
Hy het die Oos-Afrikaland slegs ʼn paar keer besoek.
