'n Franse hulpwerkster is verkrag en beroof deur verskeie gewapende mans in die ooste van die DRK, het die Le Parisian-koerant se internasionale uitgawe Vrydag gesê.
Die mans, wat uniforms gedra het, het 'n groep hulpwerksters beroof, waarvan drie vroue was. Die twee ander vroue was ook die slagoffers van seksuele aggressie, het die koerant gesê.
Dit is onduidelik of die oortreders lede van 'n rebellegroep was of soldate van die Kongolese weermag. Die organisasie waarvoor die slagoffer gewerk het se naam is nie genoem nie.
Die hulpwerksters is dringend na Frankryk teruggeneem waar die vrouens, wat almal in hulle twintigerjare is, sielkundige behandeling gekry het en daar word verwag dat klagte gelê sal word.
Hulle het gewerk in Goma-hospitaal in die noord-Kivuprovinsie, wat die middelpunt is waaromheen gevegte reeds maande lank woed.
Verkragting word gebruik as metode van oorlogvoering in die Kongo, maar tot nou toe is baie min gevalle bekend waar Westerse vroue verkrag is.
Die Franse president, Nicolas Sarkozy, beplan om in Maart in die streek te reis om 'n nuwe vredesinisiatief te bevorder ten einde die gevegte tussen die weermag en rebellegroepe in die ooste van die land te keer. Dié deel van die land is baie ryk aan minerale.
Honderde duisende burgerlikes kry swaar in vlugtelingkampe waar daar tekorte aan voedsel en basiese higiëne bestaan.
