Afrikaner was nog nooit so vry


In reaksie op Pat Hill van die DA se "spyker in die Afrikanerdoodskis"-sms, meen Fred Nel van dieselfde party dat die Afrikaner springlewendig is en nog nooit so vry was soos tans nie.

Die Afrikaner was nog nooit so vry soos die afgelope 13 jaar in die Nuwe Suid-Afrika nie. Vryhede wat deur die Grondwet gewaarborg word het die Afrikaner kultureel en andersins ’n bloeitydperk laat beleef.

Meer word as ooit tevore oorspronklik in Afrikaans gedig, geskryf, gesing en verkoop. Daar is meer kunstenaars en besigheidsmense asook entrepreneurs in die Afrikanergemeenskap en geen ander taalgroep in Afrika het soveel feeste of publiseer soveel boeke, digbundels en musiek albums soos Afrikaanssprekendes nie. Afrikaners verteenwoordig daarbenewens ook ’n beduidende koopmag in Suid-Afrika.

Reageer hierop deur ‘n brief te stuur aan: briewe@praag.org 

Ook internasionaal wys Afrikaners wat in hulle steek waar hulle as leiers na vore tree in die wetenskaplike, tegnologiese en besigheidsomgewings. Menigte Afrikaners maak ’n lewe buite Suid-Afrika en doen dit baie suksesvol. Afrikaners is deel van die globale gemeenskap.

Dit is waar dat daar onverklaarbaar deur Afrikaners na ’n identiteit of leierskap gesoek word soos onlangs bewys is deur die Delarey debat. Hierdie soeke is egter nie ’n soeke na kulturele identiteit nie maar wel politieke identiteit. Vanuit die voorafgaande stellings is dit duidelik dat daar niks skort met Afrikaners op kulturele- en besigheidsvlak nie. Wat politieke identiteit betref sal die Afrikaner nooit weer ’n noemenswaardige invloed kan uitoefen indien hy probeer om ’n ekslusiewe politieke beweging te steun nie. Afrikaners is versprei oor die politieke spektrum en is ook in leierskapsposisies in alle groot politieke partye verteenwoordig. Dit blyk ook uit die feit dat ’n multikulturele party soos die DA meer Afrikaners verteenwoordig as enige ander party in Suid-Afrika.

Die Afrikaner sal die aanpassing moet maak om vir ’n politieke beweging te steun wat eens is met sy/ haar politieke beginsels. Dit sal waarskynlik beginsels wees wat sy/ haar taal, godsdiens, kulturele en gelyke regte, ens. steun en beskerm. Afrikaners moet egter proaktief, progressief en pragmaties wees in hulle politieke denke en optrede en nie vasgevang word in onnodige negatiwiteit nie.

Die enigste ander plek in ons samelewing waar Afrikaners klei trap is in die besigheidswêreld, spesifiek wanneer na werk in die Staatsdiens gesoek word en ook by groot korporasies. Daarom steun ek die DA se beleid dat daar ’n afsnypunt vir regstellende aksie moet wees sodat almal weer gelyke geleenthede kan geniet. Hierdie nadeel het egter ook ’n voordeel gehad in die sin dat meer Afrikaners entrepreneurs word en sodoende ook vir hulle nageslagte ’n toekoms verseker.

Ek dink solank as wat die Afrikaner vry is om sy kultuur uit te leef en dieselfde vryhede te geniet as enige ander landsburger hulle as ’n groep nog ’n beduidende bydrae tot Suid-Afrika sal maak. My slotsom is dus dat Afrikaners gedy in Suid-Afrika en dat hulle moet aanhou aanpas by veranderende omstandighede asook moet aanhou bou aan hulle kulturele rykdom. Afrikaners moet betrokke bly in hulle gemeenskappe en sodoende positief bydra tot die heropbou en instandhouding van die gemeenskappe waar hulle leef en werk. Solank as wat Afrikaners hiermee aanhou is hulle ver van dood af!

Reageer hierop deur ‘n brief te stuur aan: briewe@praag.org

варианты освещения кухни фотоАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae