Toyota se binnelandse produksie sal in 2009 na alle verwagtinge met 25 persent daal, teruggerem deur 'n kwynende vraag te midde van 'n verhewigende wêreldwye afplatting.
Japan se voorste voertuigvervaardiger verwag om 3-miljoen voertuie uit te stoot op die houermaatskappyvlak – wat filiale en verwante maatskappy uitsluit. Verlede jaar het die maatskappy 4-miljoen voertuie verkoop.
Die uitset in Japan verteenwoordig 50 persent van Toyota se algehele produksie.
'n Anonieme senior amptenaar van Toyota sê dit is noodsaaklik vir die maatskappy om ten minste 3-miljoen voertuie gedurende die jaar te vervaardig vir die maatskappy om sy voltydse werkers te behou.
'n Segsman vir Toyota, Keisuke Kirimoto, het geweier om die verslag te bevestig. Hy sê die laaste keer wat Toyota se binnelandse produksie tot minder as 3-miljoen eenhede gedaal het, was in 1979 toe 2,99-miljoen eenhede vervaardig is.
Hiroshi Watanabe, 'n ekonoom by Daiwa Navorsingsinstituut, sê Toyota se wêreldwye uitset sal in 2009 na alle waarskynlikheid drasties kwyn weens die hewige insinking in die Amerikaanse en Europese voertuigmarkte.
Die maatskappy het verlede jaar erkenning aan die wortels van die voertuigvervaardiger gegee toe Akio Toyoda, die kleinseun van die oprigter van Toyota, as die maatskappy se nuwe president aangewys is.
Hy het belowe om die maatskappy se kernwaardes te herbevestig, soos om idees uit die werkerskorps hoog te ag – 'n bestuursbenadering wat bekend staan as "kaizen." Dit het Toyota se produksiemetodes wêreldwyd beroemd gemaak.
