'n 27-Jarige lewensredder is dood nadat hy Sondag deur 'n haai aangeval is by 'n strand in Port St. Johns, het die Daily Dispatch Online Maandag berig.
Volgens die verslag is Sikkanyiso Bangilizwe (27) dood minute nadat hy deur 'n tierhaai aangeval is by Tweede Strand in Port St. Johns.
Bangilizwe en 'n vriend het omstreeks 14:00 gaan swem.
'n Lewensredder kollega, Gerald Mtakati (32) het die aanval gesien.
"Ek het net bloed in die water gesien en vinnig die opblaasbare rubberboot gegryp. Toe ek by hom uitgekom het, het die haai sy een hand reeds afgebyt en het hy ook 'n bytwond op die laerrug gehad. Die haai het ingekom vir nog 'n keer," het Mtakati aan die Daily Dispatch gesê.
"Toe ek by hom uitgekom het het hy nie meer beweeg nie en was hy tussen my en die haai. Die haai was weer op pad om hom weer te kom byt."
Die geraas van die rubberboor het die haai weggejaag, maar Bangilizwe was reeds dood.
