Hamasvegters
Gasa se Hamas-leier het Hamas-vegters aangespoor om die Israelse magte wat die gebied ingeval het, te "verbrysel". Hy het ook daarop geskimp dat daar groter pogings aangewend gaan word om Israelse burgers aan te val.
Die Hamas-leier, Mahmoud Zahar, het Maandag op Hamas se Al Aksa-TV gepraat. Dit was nie duidelik of dit 'n opname van 'n toespraak was nie. Hamas-leiers skuil sedert Israel se aanval op Hamas-militantes op 27 Desember begin het. Zahar word gesien as die meesterbrein agter Hamas se gewelddadige oorname van Gasa in Junie 2007.
Hy het die Hamas-vegters geloof en hulle aangespoor om "julle vyand te verbrysel". Hy het ook daarop geskimp dat die militante gaan probeer om meer Israelse burgerlikes en Israelse teikens elders aan te val. Hy sê Israeli’s "het die moord van hulle mense regoor die wêreld aanvaarbaar gemaak toe hulle ons mense doodgemaak het."
