Die Nederlandse regse politikus, Geert Wilders is deur die Amerikaanse Horowitz-vryheidsentrum tot man van die jaar benoem.
Die leier van die Party vir die Vryheid (PVV) staan aanhoudend vir Westerse tradisies, het die konserwatiewie instituut bevind.
Wilders word beskryf as iemand wat ondanks alle bedreigings wat teen hom gerig word, onvermoeid voortgaan met die stryd teen islamisering.Die Horowitz-instituut vermeld verder dat "dit geen wonder is dat baie Nederlandse burgers begin saamstem met Wilders se siening oor die Islamitiese bedreiging nie. Volgens 'n meningsopname in Mei 2005, glo 43 persent van Nederlanders tans dat Islam onversoenbaar met 'n Westerse samelewing is. In 'n soortgelyke opname in 2006 is bevind dat die meerderheid inheemse Nederlanders Islam as onverdraagsaam, gewelddadig en vyandig teenoor vroue beskou. Nie dat Wilders veel erkenning gekry het omdat hy dié kwessies onder die nasionale aandag gebring het nie. Vir sy moeite is hy as 'n "verregse" rassis en vreemdelingehater uitgekryt."
Die Horowitz-instituut is gestig deur David Horowitz, die seun van twee Joodse kommuniste wat aanvanklik in die sestigerjare self links was, maar deesdae 'n toonaangewende konserwatiewe denker in Amerika is.
"Geert Wilders het al die regte vyande gemaak," meen die Horowitz-instituut. In 'n tyd waarin vele aanbeveel dat Islamitiese eise geakkomodeer moet word, bly Wilders uitgesproke. In 'n tydvak waarin Westerse selfveragting hoogty vier, verdedig hy ons beskawing sonder om verskoning te vra. In weerwil van dreigemente teen sy lewe, verseg hy om te swyg. Daarvoor verdien Wilders die lof van vele – diegene in die Weste wat hom verguis, inkluis."
