Die meeste Europeërs voel dat die euro die dollar in globale belangrikheid binne die volgende 5 jaar kan verbysteek, volgens 'n opname deur die Financial Times en Harris-navorsingsdienste, dae voor die enkelgeldeenheid se tiende verjaarsdag.
Die ondersoek het ook getoon dat Eurosone-inwoners verdere uitbreiding ondersteun, maar pessimisties is omtrent die ekonomie en voel dat die Europese Sentrale Bank (ESB) nie genoeg gedoen het om inflasie in die Eurosone te beheer nie.
Die Eurosone sal 16 lede en rofweg 330 miljoen inwoners hê wanneer Slowakye Donderdag ook aansluit.
Sedert die loodsing op 1 Januarie 1999, het die Euro se posisie as buitelandse reserwegeldeenheid van 18% toegeneem tot 27% en die waarde van euro's in omloop is meer as dié van dollars.
Die FT/Harris-ondersoek het nie 'n groottotaalsyfer gegee nie, maar die ondersoek toon dat omtrent 70% van Spanjaarde en twee derdes van Franse sterk saamstem of redelik sterk saamstem met die stelling dat die euro die dollar kan verbysteek in globale belang. In Duitsland was die syfer 58% en in Italië 62%.
Ongeveer 48% van Amerikaanse inwoners wat gevra is, het ook met die stelling saamgestem.
Europeërs was pessimisties omtrent die ekonomiese vooruitsig, en 'n groter meerderheid het gesê die ESB se optrede in die bestryding van inflasie was "sleg" en "verskriklik".
Dit was die geval, al het die bank oor die algemeen daarin geslaag om te voorkom dat inflasie ver bo die teiken van 2% geklim het.
Sommige pryse het skerp gestyg met die formele bekendstelling van die euronote en -munte sewe jaar terug, drie jaar nadat die geldeenheid geloods is as 'n virtuele eenheid wat gebruik word in boekhouding en finansiële transaksies.
'n Kwart van diegene wat ondervra is, het gevoel dat die resessie 'n jaar of minder sal duur, terwyl die Britte verwag dat dit twee jaar kan duur. Een derde van Duitsers het gesê Europa se grootste ekonomie sal nie omkeer en groei toon binne die nabye toekoms nie.
