Nee, nie almal sou dink dis nodig om hierdie dinge wat so skroei op sy tong, wat so bewe in sy tikvingertoppies, te sê nie. Maar Max moet praat; móét net eenvoudig woorde rangskik en uitmarsjeer in ’n enkellinie. Want, en hy kan maar net hoop, as hy praat, wie weet, miskien maak dit die gedruis in sy skedel stil.
Die geraas, die geraas! Dis soos ’n duisend kraaie wat op ’n sinkdak trap en krap. ’n Mot in die oor. John Hanning Speke, die ontdekkingsreisiger, het mos eenkeer iewers in Afrika ’n mot in die oor gekry en hoe meer hy hom met sy duim en wysvinger probeer vasgryp het, hoe dieper het die mot in die oorkanaal ingekruip. Dit het die dapper Speke amper mal gehad, kranksinnig van pyn en ’n sekere oervrees want die klank van elke spiertrilling van die insek is versterk omdat dit aan die oordrom geraak het. Elke miniatuur beweging het ’n donderstorting van onontvlugbare geraas en gegrom en geloei veroorsaak. En daarmee saam die yskoue wete dat die brein net millimeters van die mot se geknaag is.
Dit raas. Dit raas in Max se kop maar dit is nie die gekryts van kraaikloue op ’n sinkdak of van ’n mot in die oorkanaal nie. Dit is die geluid van ’n oerwaarheid, van ’n kennis wat hy het, ’n wete wat hy nie eers saggies aan homself wil erken nie. As dit stil is in sy binnekant, dan is dit wanneer dié waarheid keel skoonmaak. En deesdae, iewers in die agtergrond, sing ’n koor, ’n massiewe koor van honderde, van duisende, selfs miljoene, stemme. Hulle sing van ’n generaal wat hulle moet kom lei.
Die skrywer van paalplakkate
Daar was ’n tyd toe Max die stemme nie gehoor het nie; wat die geroesteskarnierklanke van sy eie stem elke ander in sy eie ore verdoesel het.
Wat ’n vuurvreter was ons Max in daardie dae nie, met ’n hart van gesmelte goud vir die verontregte en ’n buik vol suur teen die onderdrukker. A, as die gloriedae van die stryd maar net langer wou hou, net nog ’n dekade, kans vir nog vyfhonderd uitgawes van daardie stuitige klein Vrye Weekblad wat so rojaal vanuit Swede en Brittanje gefinansier is. Hoe maklik was dit nie in daardie dae om die onreg raak te skryf nie! Wit was NP en NP was verstok, onbehendig en vol kleinvrees, die mees verstokte organisasie in die geskiedenis van verstokte organisasies in Suid-Afrika. (Behalwe vir die AWB en die KP en die Volksfront en al die ander regse grotbewonerorganisasies, om nie van die HNP te vergeet nie – maar wie onthou die HNP (die Ha En Pee!) deesdae? – en red nou ’n volk, bring nou helderheid in soveel donkergrysheid van uitgediende, ingeteelde denke, in idees so dof dat die NP se flou lig eintlik blink daarin skyn.)
En daarteen die ANC. A, die ANC! ANC was fier en edel en vol volkshumor, dit was Nelson – Madiba! – en die Moeder van die Nasie met haar vuurhoutjies en halssnoere en dit was entoesiastiese skares en sagmoedige swart massas vol deernis en groot vergifnis en visies van nasiebou… Oliver en Govan en klein Thabo en Chris en Jay en Mac Maharaj wat lyk soos ’n Indiese Kolonel Saunders met daardie winkbroue en daardie spits baardjie. Kerrie! As die NP vaal vleis, rys en aartappels was, is die ANC kerrie, vol skroeiende geure en onuitkenbare smake, anys en knoffel en kadamom-sade en lourierblare, kerrieblare en danja, maar ook marôg en pap en ’n pot vol afval en kalbasse vol suur sorghumbier. Hoe kan hierdie Boerseun, hierdie Max du Preez, dit weerstaan? Die NP was so, so… so wit, as die lesers nie verkeerd sal verstaan nie, so smaakloos, en die ANC so vol kleurryke en geurige beloftes.
Om darem so aan die opmarsjeerkant van ’n rewolusie te wees! Sê wat jy wil, dit is anders, baie anders vir ’n Boerseun, ’n Du Preez, om met soveel ywer deel te neem aan ’n anti-Afrikanerrewolusie. Anders? Natuurlik, want andersheid is ’n belangrike element in Max se siening van homself. Hy het lankal geleer dat daar ’n uitsonderlike glorie in andersheid is. As jy wil hê mense moet oor jou praat – en hoe lekker is dít nie? – dan is dit belangrik dat jy anders is. Nie ’n frats nie, hoor. Net anders. Hoe om dit te verduidelik?. Anders, maar nie ’n frats nie is… dit is soos sy… baard!
Max du Preez se baard is anders. Nie uitspattig of fratsagtig nie, net anders. Dit is nie so ’n politieke bokkie soos wat Smuts, Hertzog en nou ook Mbeki het nie. Net so is Max ook nie ’n politieke dier in ’n bepaalde kamp nie; hy beweeg oor grense, soos ’n reuk, en oral waar hy kom, is daar iemand wat in die lug snuif en hom herken. Sy baard het ook nie die sluwe, kinderbybelduiwelswier van Maharaj of Jay Naidoo nie. Syne is eerder ’n opregte baard want Afrikanerstylintegriteit is so deel van Max as wat klipkoppies en grys bossies deel is van die Karoo. Maar darem nie boers nie, nie so ’n harige borslap soos President Brand of Piet Joubert of selfs die Ajatolla Khomeini s’n nie. Max se baard is so ’n presiese een, omlyn die kakebeen en trek ’n netjiese muilband om die mond. Eintlik het dit nie baie hare nie. Wys jou hoe baie met hoe min gedoen kan word. Soos die regte woord op die besliste oomblik. Dis hoe sy baard is. Dit is nie vergesog om te dink dat daar eendag van ’n Max-du-Preez-stylbaard gepraat sal word nie. Stylvol maar opreg.
Styl en opregtheid. Daar’s nou vir jou twee eienskappe wat jy nie in lyn kan bring met die Versteende Verstande van die verlede nie. Vreemd hoe die Nasionale Party hulle politiek sonder gesigshare bedryf het. Malan, Strijdom, Verwoerd, Vorster, Botha, De Klerk – almal sorgvuldig skoongeskeer, so al asof hulle hulle sluheid reg in die publieke oog wou versteek. Sluheid? Hmm. Nee. Nou goed, nie slu nie. Sluheid impliseer verbeelding en niemand sou die Natte van verbeeldingrykheid beskuldig nie. Verkramp. Verstok met versteende verstande. Versteende Verstande. Dis hoe Max aan hulle dink, mense wat in een of ander evolusionêre fase gefikseer het, waarskynlik in ’n versamelaar/jagter-era waar die oorlewingsdrang allesoorheersend was, toe die veg-of-vluginstink die basiese emosie was. Veg en as jy nie kan wen nie, vlug! Vlug in die grot in, die takkraal in, in die getalsterkte van die grotbewoners in. Of, as jy middeljarig en verstok is, ’n Versteende Verstand is, dan vlug jy in die laer in, agter die pantser van jou wit vel in. Dit is wat hulle sterk gemaak het, hierdie verbete verbeeldingloosheid, hierdie versteende verstande met ontsapte breinare waardeur geen oorspronklike gedagte kon beweeg nie.
Dit was hierdie ingelaerdheid wat die bevryders se opmars vir so lank gestuit het. Iemand moes die waagmoed – om nou P.W. se gepatenteerde term te gebruik – hê om in die bedompige grot in te gaan, die Versteendes aan die baard – maar baarde het hulle mos nie – aan die los nekvelle, dan, te gryp, as’t ware, en om hulle uit te sleep waar die orkaan van die geskiedenis hulle kon omwaai. Iemand moes teen hulle opstaan om hulle te verslaan en as hierdie iemand ’n presies gekapte stylvolle baard het, nou ja, kom die tyd, kom die man. En jong Max du Preez rys op met sy gekose wapen in die hand – ’n pen.
Dat die pen magtiger as die swaard is, dít glo hy, maar in sy verbeeldingwêreld is dit letterlik so. Hy sien homself, ’n kwasi-sosialistiese William Wallace (met ’n Max-du-Preez-baard) uitgerus in ’n rooi T-hemp met ’n swart vuis daarop en bandeliere kruis en dwars, Che-styl, daaroor. Onderaan dra hy ’n Skotse rokkie – nee! –eerder ’n Afrika-kulturele herinterpretasie van die kilt; in sy ensemble het hy ’n velromp, soos Hoofman Tshwane s’n, aan, saam met mynstewels. Sy rewolusionêre baard, die Max-du-Preez-stylbaard, is net so effens langer sodat dit bietjie woes kan staan in die warm wind van die stryd. Hy staan so daar teen ’n bultjie uit en gluur na die aanploeterende horde Verwoerdiaanse Versteendes, elkeen van hulle styf in swart pakke en wit hemde en smal, donker dasse, die volle Broederbond uniform, en die ringkoppe dra sulke smalrand Homburg hoede, die soort wat John Vorster altyd so beleef getiep het in die rigting van die pers. En hy kyk hulle in die gesig, net hy, jong Max du Preez en in sy hande het hy ’n enorme pen so groot soos ’n dubbelhand Claymore swaard. Hierdie pen is ’n gewone balpunt – niks so aanstellerig soos ’n Parker of ’n Montblanc vulpen nie – ’n goeie proletariese Bic balpunt, die geel soort met die blou doppie, die ronde gaatjie in die sy en die spits punt met die blertsie donkerblou ink op die balletjie – ’n joernalispen! Hy swaai dit in wye, venynige sirkels voor hom, kletter die Versteende Verstande om maar hulle hou aan voortploeter in so ’n meedoënlose pas, een swaar voet na ’n ander en aan en aan en aan. Maar Max swaai sy pen, steek, dryf terug, kap, man-alleen, ’n verwoestende vestingheld teen ’n horde nasionalistiese Orks.
Diep asem. Wag. Max is genoeg van ’n letterkundige om te weet dat ’n metafoor ’n toepassing moet hê. Die held met die reusepen, ja dit is ’n opwindende beeld, maar hoe lyk dit in die regte wêreld? Die pen is magtiger as die swaard. Die pen is ’n tikmasjien, ’n woordverwerker, ’n bladuitleg en gewaagde inhoud. Die pen is ’n koerant, onafhanklik, op die spits, kloekmoedig. Die pen is… die pen is Die Vrye Weekblad.
Ja, Die Vrye Weekblad met sy parmantige paalplakkate. “Ja-Nee!” in kommentaar op FW se referendum. Kyk net, kyk net hoe pittig, so vol dubbelsinnige pret maar ook so vol regverdige gebelgdheid, so ’n kort, hewige uitblaas van die asem, vol aangeplakte geduld en winkbroue wat lig in die rigting van die remskoene en hulle kortsigtigheid. En in opvolg – maak reg hiervoor, dit is regtig baie goed – in opvolg ʼn plakkaat wat sê: “Ag nou ja!” Sien, sien, sien. Dit sê alles. As daar dan nou ʼn referendum moet wees, diep sug, nou goed, stem dan maar “ja.”
Those were the days, my friend, we thought they’d never end…
Lees môre verder aan aflewering twee: Die bewaarder van die rewolusie
