Oorbesteding op hophuise in Noord-Kaap bekyk

Miljoene rande se oorbesteding aan die herstel van HOP-huise en doelwitte wat nie gehaal is nie, is van die probleme by die Noord-Kaapse departement van Menslike Nedersettings wat later vandeesmaand in die parlement gaan draai.

Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor Menslike Nedersettings, Nocawe Mafu, het dié departement aangesê om weer ‘n voorlegging aan die komitee te doen.

Dit volg nadat dié komitee Dinsdag die departement se voorlegging sterk gekritiseer het. Die departement moes verslag doen oor sy prestasie tydens die vorige boekjaar en sy planne en doelwitte vir die volgende boekjaar.

Die voorlegging het onder meer gewys dat die departement verskeie doelwitte, soos die uitreiking van titelaktes en die bou van HOP-huise, nie bereik het nie. Van die probleme wat glo hiervoor verantwoordelik was, was die koste vir die vervoer van boumateriaal na afgeleë dorpe en die tekort aan professionele dienste.

Lede het egter gesê die departement moet ‘n meer volledige voorlegging gaan voorberei en met die nodige antwoorde op hul vrae terugkeer.

Maak 'n opvolg-bydrae