'n Selfmoordontploffing in die middel van die suidelike Afghaanse stad Ghazni het Maandag drie mense dood gelaat en vyf gewond, het polisie gesê.
Die plofstof wat aan die aanvaller se liggaam vasgemaak was, het ontplof toe hy in 'n besige straat in Ghazni, omtrent100 kilometer suid van die hoofstad Kaboel gery het, het Ghazni se provinsiale adjunkpolisiehoof Mohammad Zaman gesê.
"Drie burgerlikes, die selfmoordbomaanvaller, en sy bestuurder is dood en vyf burgerlikes is gewond," het Zaman gesê, en bygevoeg dat dit voorkom asof die bom te vroeg afgegaan het.
Zaman het gesê dit is nie duidelik wat die aanvaller se teiken was nie. Die pad waar die ontploffing plaasgevind het ,lei na die provinsiale goewerneur se woning en ook na verskeie regeringsgeboue.
Die vyf beseerdes is buite gevaar, het die direkteur van die plaaslike hospitaal, Ismael Ibrahimzai, gesê.
Niemand het onmiddellik verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Zaman het die ontploffing op "vyande van Afghanistan" geblameer, 'n uitdrukking wat deur Afghaanse beamptes gebruik word om te verwys na lede van die uitgeweke Talibanmilisie wat in die regering tussen 1996 en 2001 gedien het.
Die Taliban het 'n bloedige opstand teen die Amerikaans geondersteunde regering van president Hamid Karzai gevoer sedert hulle uit die kussings gelig is in 'n Amerikaans geleide inval laat in 2001.
