Amerikaanse motorreddingsplan sneuwel in Senaat
Senaatwetgewers het gisteraand nie kon ooreenstem oor 'n hulppakket vir die sukkelende Amerikaanse motorvervaardigers nie, iets wat die Demokrate gewaarsku het miljoene mense se werk in gevaar kan stel.
Gesprekke oor die $14-miljard pakket wat gesteun word deur Demokrate en die Withuis het 'n dooiepunt bereik nadat die senaat se Republikeine vasgestaan het by hulle eis dat die Amerikaanse salarisse vinnig in lyn gebring word met dít wat deur buitelandse motorvervaardigers betaal word.
"Ek sidder as ek na Wallstraat moet kyk môre. Dit gaan nie 'n mooi prentjie wees nie," het Demokratiese senaatleier Harry Reid gesê nadat Wallstraataandele gedaal het in afwagting van die nuus.
Demokratiese senatore, wat bekommerd is oor nog verminderings van poste het voorberei om die Withuis te versoek om geld van die $700 miljard-Wallstraathulppakket los te maak vir die motorvervaardigers.
"Miljoene Amerikaners, nie net motorvervaardigers nie, maar ook mense wat motors verkoop en dié wat aan motors werk, gaan nou direk geraak word," het Reid gesê.
"Ek hoop dat die president wat so goed met ons saamgewerk het die laaste paar weke aan die wetgewing nou sal ooorweeg om die noodfondsgeld te gebruik om die motornywerheid en die werkers van die land te help."
Reid het verwys na die geld in die $700-miljardhulppakket vir finansiële instellings waarop vroeër vanjaar besluit is.
Die Demokrate wil deel van die fondse hê om die motornywerheid by te staan en president Bush se administrasie het geweier.
