Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit is vandag om 12:00 gesluit verklaar weens gerugte dat swart studente van die Mafikengkampus wat laas nog geboue aldaar verbrand het, op pad is Potchefstroom toe. PRAAG het ook vroeër berig dat Mafikengstudente, noudat hul kampus afgebrand en gesluit verklaar is, by Potchefstroom wil kom inskryf of “geakkommodeer wil word”.
Die rektor van die Potchefstroomkampus, Fika Janse van Rensburg, het die volgende brief aan alle studente vrygestel en wat ook op die universiteit se Facebookblad te lese is.
Die area in en om die Studentesentrum (SS), die Kafeteria en die Draak is vanaf 12:00 tydelik gesluit.
Die rede is ‘n moontlike onwettige protesoptrede georganiseer deur ‘n nie-erkende liggaam, onwettig gereël saam met werknemers van diensverskaffers met die die NWU ‘n kontrak het.
Alle persone wat by onwettige optrede betrokke is, sal ooreenkomstig die beleid en dissiplinêre prosedures aangekla en vervolg word.
Indien die protesoptrede nie vreedsaam verloop nie, gee ek julle die versekering dat ons Kampus gerat is om dit te ontlont en te bestuur. Ons is vir elke gebeurlikheid voorbereid. Daarom moet studente en personeel níé betrokke raak nie. Goed-bedoelde “hulpverlening” sal die teendeel bereik.
Vermy dus die SS en omgewing gedurende hierdie tyd.
Jou hulp asb: ons grootste enkele probleem is die verspreiding van vals boodskappe en gevolglike alarmistiese disinformasie wat paniek veroorsaak. Ek doen ‘n beroep op elkeen: as jy ‘n berig kry waarvan jy die egtheid nie kan verifieer nie, stuur dit na PukkePraat@nwu.ac.za, of die klagte-gedagtelyn per sms: 31750. Of jy kan telefonies met ons kontak maak by 018 299 2776 of 018 299 2712.
Opnuut die versekering: ek en die bestuurspan sal jou op hoogte hou van enige verwikkelinge. Hou veral die NWU-Pukke Facebook dop. Hier sal jy altyd akkurate en mees resente inligting kry.
Alle ander aktiwiteite op die kampus gaan normaal voort.
Groete,
Fika Janse van Rensburg, Rektor
