Angola se regerende party het bevestig dat president Jose Eduardo dos Santos as kandidaat sal staan in volgende jaar se beplande verkiesing, het die
staatsmedia Woensdag gesê.
"Jose Eduardo dos Santos is ons natuurlike kandidaat, en daar kan geen twyfel daaroor wees nie," het die party se sekretarisgeneraal Juliao Mateus Paulo, ook beter bekend as Dino Matross, aan die staatsradio gesê.
Sy het gepraat by die 52ste herdenking van die Populêre Beweging vir die Bevryding van Angola (MPLA), in die aanloop tot die land se verwagte presidentsverkiesing in 2009.
Dos Santos, 66, was Angola se president sedert 1979 en is een van Afrika se langsdienende presidente.
Die MPLA het meer as 81% van die stemme gewen in September se parlementsverkiesing, die eerste in 16 jaar, en het 191 setels uit die 220 parlementêre setels verower.
'n Nuwe grondwet word tans opgestel en daar is sprake dat die parlement toegelaat gaan word om die president te kies, pleks daarvan om 'n algemene verkiesing te hou.
Die idee het hewige kritiek ontlok vanaf opposisiepartye en die gemeenskap wat sê dat die mense van Angola direk moet kan stem vir hulle leier van keuse.
