Sheikh Khalid Abubakar, die imam by die stad se hoofmoskee, het gesê dat meer as 300 liggame Saterdag na die moskee gebring is en 183 liggame was nog naby die gebou sigbaar, waar hulle gewag het om begrawe te word.
Dié wat in die Christelike gemeenskap doodgemaak is, sal waarskynlik nie na die stad se moskee gebring word nie, wat die moontlikheid laat ontstaan dat die sterftesyfer heelwat hoër kan wees. Die stad se lykshuis was nie Saterdag toeganklik nie.
Die geweld is die ergste in die rustelose Wes-Afrikaland sedert 2004, toe soveel as 700 mense dood is in Plato-staat gedurende die Christen-Moslemgevegte daar.
Jos, die hoofstad van Plato-staat, het 'n lang geskiedenis van gemeenskapsgeweld wat dit moeilik gemaak het om verkiesings daar te organiseer. Opstande in September 2001 het meer as 1 000 mense dood gelaat.
Die stad is geleë in Nigerië se middelstrook, waar lede van honderde etniese groepe saamleef in 'n gebied met vrugbare grond waaroor daar gestry word. Dié strook grond skei die land se Moslems in die noorde van die Christene in die suide.
Woedende skares het Donderdag in Jos bymekaargekom nadat verkiesingswerkers nie daarin geslaag het om stemuitslae bekend te maak nie, wat baie mense laat dink het dat die stemmery net die jongste episode in 'n lang geskiedenis van Nigeriese verkiesingsbedrog was.
Opstande het Vrydagoggend uitgebreek en 15 mense is dood.
Plaaslike etniese en geloofsleiers het Saterdag op die radio 'n beroep op mense gedoen om kalm te bly en die strate was redelik kalm gewees. Soldate is opdrag gegee om op oproeriges te skiet.
Die geweld is die ergste sedert die inswering in Mei 2007 van president Umaru Yar'Adua, wat die verkiesing gewen het, hoewel die verkiesing nie deur waarnemers as vry en regverdig beskou is nie.
