Die minister van buitelandse sake, Phandu Skelemani, het ook aan BBC-wêreldnuus gesê dat die streeksmagte maar moet aanvaar dat hulle gefaal het om die dooiepunt tussen Mugabe en Tsvangirai op te los en dat hulle nou ekonomiese druk op Zimbabwe sal moet toepas.
Toe hy gevra is of Botswana aan Tsvangirai 'n veilige hawe sal bied indien die magsdeling amesprekinge misluk, het Skelemani gesê:"Indien enige iemand na Botswana kom en sê dat hulle vrees vir hulle lewe, in hulle eie land, sal ons hulle nie wegjaag nie."
Toe hy verder gedruk is vir antwoorde oor wat Tsvangirai sal kan doen vanuit Botswana se grondgebied, het die minister gesê dat hy nie toegelaat sal word om 'n militêre aanval te loods uit Botswana nie, maar dat hy moontlik 'n politieke weerstandsbeweging kan lei uit dié land.
"Dit sal die mindere van twee euwels wees, wat waarskynlik sal wees om die wapens op te neem en onskuldige mense te laat sterf," het Skelemani gesê.
Botswana se president, Ian Khama, is een van die min Afrikaleiers wat Mugabe openlik kritiseer,en wat sy herverkiesing in Junie as onwettig beskou.
Die minister van buitelandse sake het ook gesê dat die SAOG-ontwikkelingsblok nou moet erken dat hulle bemiddelingspogings misluk het.
"Die internasionale gemeenskap, die SAOG eerste van almal, moet nou erken dat hulle misluk het, dat ons almal misluk het, dat ons as die SAOG misluk het. Die res van ons moet nou toegee dat ons misluk het," het Skelemani aan die BBC gesê.
"Na dese moet die SAOG "'n beroep doen op die internasionale gemeenskap en vir Mugabe reguit vertel: 'Kyk, jy is nou op jou eie, ons sal jou grense sluit en jou afskakel', en ek glo nie hy sal lank hou nie," het Skelemani gesê.
"Indien geen petrol vir 'n week lank die land binnegaan nie, kan hy nie hou nie."
Onderhandelaars vir Mugabe en Tsvangirai het weer vir nuwe samesprekinge in Suid-Afrika ontmoet om die dooiepunt in die ooreenkoms uit te stryk. Volgens die ooreenkoms sal Mugabe as president aanbly en Tsvangirai die pos as eerste minister kry.
Tsvangirai het die eerste rondte van die verkiesing in Maart gewen, maar onttrek uit die Junieverkiesing, nadat Mugabe-ondersteuners ernstige aanvalle op sy ondersteuners geloods het, en 'n hele klomp van hulle dood is.
