Vlootwoordvoerder, Nirad Sinha, het gesê dat die fregat, INS Tabar, laat Dinsdag begin skiet het op die skip in die Golf van Aden, nadat gewapende mans aan boord van die seerowerskip op hulle begin skiet het.
"Die vaartuig was soortgelyk in beskrywing aan die "moedervaartuig" van die seerowers wat in verskeie bulletins genoem is," het Sinha in New Delhi gesê.
"Die INS Tabar het die "moederskip" genader en versoek om te stop vir inspeksie. Na verskeie versoeke het dié vaartuig gedreig dat hulle die oorlogskip sal opblaas indien hulle nader sou kom," het hy gesê.
Seerowers is op die bodek van die vaartuig gesien met RPG's en outomatiese wapens, het hy gesê.
'n Senior vlootbron het gesê dat die oorlogskip swaar kanonne gebruik het om die seerowerskip totaal te vernietig.
"Van wat ons kan sien in foto's is die seerowers se vaartuig totaal vernietig," het die anonieme offisier gesê.
Die Golf van Aden is die effektiewe toegangsbeheerpunt vir die Suezkanaal, wat skepe toelaat om van Europa na Asië te gaan sonder om die langer en veel duurder roete om die suidpunt van Afrika te neem.
