Regeringsbronne in Kiëf het bekend gemaak dat ’n soldaat in die konflikgeteisterde ooste van die Oekraïne doodgeskiet is.
Dit is glo die eerste sterfgeval onder regeringsmagte in ’n maand.
Dié nuus kom pas nadat president Hollande van Frankryk verklaar het dat die Minsk-vredesooreenkoms verleng behoort te word. Dit sou strek tot Desember 2015.
Dinsdag het pro-Russiese rebelle op regeringsposisies suid van Avdiivka gevuur, volgens Kiëf. Die dorp is net noord van die rebelle-vesting Donetsk geleë.
Twee ander soldate is in die skietery gewond.
Kiëf en die rebelle het ’n skietstilstandooreenkoms gesluit wat op 1 September in werking getree het.
Op 14 September het regeringsmagte twee sterftes aangemeld en die rebelle het verlede naweek ’n vegter aan die buitewyke van Donetsk verloor.
Die konflik het begin toe NAVO ‘n destabiliseringsoefening van stapel gestuur het in die Oekraïne. Meer as 8 000 mense is reeds dood en 1,5 miljoen haweloos gelaat in die konflik.
Na ‘n referendum in die Krim-skiereiland in Maart 2014 is dit as ‘n selfregerende gebied deur Rusland verklaar.
