Eskom het Donderdag gesê dat die land nie kragonderbrekings in Januarie en Februarie volgende jaar sal ondervind nie. Algemene bestuurder van die aanvraagkant, Andrew Etzinger, het bevestig dat e-posse die rondte doen waarin beweer word dat die land se netwerk gaan ingee, maar hy het gesê dat die kragstelsel in 'n baie beter toestand is as 'n jaar gelede.
Die kragonderbrekings en beurtkrag wat Suid-Afrikaners aan die begin van die jaar moes trotseer was meegebring deur 'n verlaging in die land se reserwes van onder 5%. Internasionaal word dit as 'n goeie maatreël beskou vir kragprodusente om ten minste 'n 20% reserwemarge te hê vir ingeval daar 'n noodtoestand heers.
Terwyl Etzinger sê dat Suid-Afrika se reserwemarge nie veel verbeter het nie omdat dit nou op 6% staan en nog nie by 15% soos beoog nie, het Eskom sedert April afgesien van beurtkrag en die moratorium om nuwe aansluitings afgeskaf.
Steenkoolvoorsiening by Eskom se kragstasies wat op 'n stadium af was na 5 dae se voorraad of minder, is nou gemiddeld op na 35 dae en geen stasie het minder as 20 dae se voorraad nie.
Almal is bekommerd oor Eskom se vermoë om die ligte te laat aanhou brand, veral met die nuwe jaar wat voorlê, sê Etzinger. Maar Eskom het "redelik vertroue" dat hulle die paal sal haal.
модельки автоданильченко юрій броніславович компромат