Tomaz Salomoa, voorsitter van SAOG het aan verslaggewers gesê dat die streek versoeke vir ‘n vuurstaking en die daarstelling van ‘n humanitêre korridor steun.
“SAOG behoort onmiddellik hulp aan die gewapende magte van die DRK te verleen” het hy gesê, toe hy die byeenkoms se verslag gelees het.
“SAOG sal nie toesien dat destruktiewe dade van geweld deur gewapende groepe gepleeg word nie….en sal indien nodig vredesmagte stuur” het hy gesê.
Salomoa het gesê dat ‘n militêre adviesspan onmiddellik in DRK ontplooi gaan word om die DRK se gewapende magte te help, en dat ‘n militêre span gestuur gaan word om die situasie te evalueer om te bepaal watse hulp daar nodig is.
‘n Militêre moniteringskomitee gaan ook gestuur word om die grens van Kongo met Burundi, Rwanda en Oeganda te monitor.
Salomoa het gesê dat die DRK se gewapende magte hulp moet kry om die land se soewereiniteit en streeks ntegriteit te beskerm.
Hy het gesê dat die streek die VN gaan vra om die mandaat van sy vredesending, bekend as MONUC, uit te brei, aangesien hulle nie toegelaat word om aktief deel te neem aan skermutselings in die DRK nie.
“Ons posisie is dat ons die sekretarisgeneraal van die VN gaan versoek om die mandaat en verwysingsraamwerk van MONUC te verander” het Salomoa gesê.
“Kom ons wag en sien hoe die optrede en gedrag van MONUC op die grondvlak is, waarna ons verdere besluite kan neem oor die ontplooiing van vredesmagte in die SAOG-streek. Ons is wel bewus daarvan dat ons ‘n tragedie in die gesig staar, en dat tyd nie aan ons kant is nie” het hy gesê.
Salomao het berigte ontken dat Angolese soldate reeds in die DRK ontplooi is, maar het gesê dat hulle vinnig ingestuur kan word.
“Indien nodig sal hulle vinnig ingestuur kan word, gebaseer op die verslag wat deur die militêre kenners ingedien word” het hy gesê.
“Die sekuriteitsituasie in die DRK affekteer die vrede en stabiliteit in die SAOG en Groot Mere gebied” het hy gesê.
Pro-regerings soldate is in gevegte betrokke met rebelle van die Nasionale Kongres vir die Verdediging van die Mense NKVM wat gelei word deur die wegbreek Tutsi-generaal, Laurent Nkunda.
Die VN en humanitêre groepe het gesê die laaste rondte gevegte het 253 000 mense ontwortel sedert September en ten minste 100 dood gelaat.
