"Obama, the musical", het Sondag in die Keniaanse nasionale teater in Nairobi geopen en sal tot Woensdag aanhou speel.
Die vertoning gebruik ‘n mengsel van sang, dans en vertelling om die senator se lewe te volg.
George Orido, die skrywer en regisseur van die stuk het aan The Daily Nation gesê, “Ek wil nie net met die vertoning Obama se storie vertel nie, maar ek wil Keniaane verenig.”
Die vertoning het Sondag geopen met luide applous van die Keniaanse gehoor, maar een korrespondent wat dit gesien het, het dit met ‘n poppespelteater vergelyk.
Die openingsvertoning het geëindig met die gehoor wat lustig saamgesing het aan “Obama be thy name”, ‘n reggae-nommertjie deur ‘n Keniaanse kunstenaar, Makadem.
Senator Obama se pa was van Kenia afkomstig, waar hy as 'n held beskou word.
Sy ouma, Sarah Obama, woon steeds in ‘n klein dorpie, Kogelo, in die weste van Kenia.
Juigende ondersteuners het die roete wat hy op sy laaste besoek gevolg het volgestaan, en ‘n BBC-opname het bevind dat hy daar sowat 80% van die mense se ondersteuning geniet.
Obamakoors het die land deurtrek in die laaste paar dae voor die Amerikaanse verkiesing, en groot skares word in die stad Kisumu, naby aan Kogelo verwag, waar die BBC se Swahili-diens van Maandagaand af dekking van die verkiesing op ‘n groot skerm gaan uitsaai.

15:04:36 Barack Obama, die Amerikaanse presidentskandidaatgunsteling se lewe word nou in ‘n Keniaanse musiekblyspel uitgebeeld in die laaste paar dae voor die verkiesing in Amerika. Obama se grootouers kom van dié Afrikarepubliek af.