Shilowa, wat ‘n klomp professionele jongmense in Johannesburg toegespreek het, het gesê die party sal inklusief wees teenoor alle Suid-Afrikaners. “Wat is fout daarmee om ‘n party te hê wat blankes ook aantrek? Die party behoort nie-rassig te wees op papier en ook in karakter en deelname,” het hy gesê.
Shilowa het gesê die middelklas is belangrik aangesien hulle in ‘n posisie is om rykdom te skep.
“Hoe gaan ons rykdom skep as almal arm is? Ons moet die teenwoordigheid van almal benut – ryk, arm, geleerd en entrepreneurs,” het hy gesê.
Shilowa het gesê die party gaan akademiese uitnemendheid voorstaan. Dit is op soek na nuwe leiers met vars idees.
“Dit is julle wat ons wil sien na vore kom as leiers van die party. Ons het professionele lede nodig,” het Shilowa gesê.
Met verwysing na ‘n brief wat Mbeki aan die ANC geskryf het, het Shilowa weer sy oproep herhaal dat die brief vrygestel word aan die publiek.
“Ons stem nie saam met die akkuraatheid van wat die ANC van die inhoud van die brief gesê het nie. Ons daag hulle uit om dit bekend te maak…let op my woorde…ek sê dit omdat ek die brief gesien het,” het Shilowa gesê.

