Die Veiligheidsraad het laat Woensdag die rebelle se aksie teen die provinsiale hoofstad veroordeel, en kommer uitgespreek omdat daar met grofgeskut oor die grens van Kongo in Rwanda in geskiet word.
“Die stad se mense is paniekerig” het Goma se goewerneur, Julien Paluku gesê, en bygevoeg dat die plaaslike bevolking bekommerd raak oor die toestroming van byna 20 000 mense wat van gevegte in die noorde af gevlug het.
Die rebelle het Woensdag laat ‘n eensydige skietstilstand afgekondig na die val van die regeringsmagte. Die VN magte, wat partykeer gewapende helikopters moes gebruik om die rebelle te stuit, is nou die enigste struikelblok tussen die rebelle en die oorname van Goma in die noordelike Kivuprovinsie.
‘n Top Amerikaanse gesant in Afrika het die rebelle gewaarsku om uit Goma uit te bly en gehoor te gee aan vorige ooreenkomste om konflik in die streek te beëindig.
“Hulle mag nie in Goma ingaan nie, hulle sal verantwoordelik gehou word vir aksie wat daar plaasvind” het Jendayi Frazer, Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake by ‘n perskonferensie in Nairobi gesê. Sy was Donderdag onderweg na Kinshasa.
‘n AFP-korrespondent in Goma het gesê dat regeringsmagte Woensdag gevlug het, en hulle tenks op die pad na Bukavu, in suidelike Kivu opgetrek het.
VN-tenks het posisie ingeneem rondom die vredesmagte se hoofkwartiere naby die lughawe van Goma.
