'n Kommissie onder leiding van regter Phillip Waki, het verlede week gesê vooraanstaande politici en sakemanne het gehelp om die etnies-gebaseerde geweld te organiseer. Die regter het 'n koevert met die name van die beskuldigdes daarin aan Annan oorhandig.
Annan het die koevert aan die owerhede oorhandig en gesê hy dink dit is belangrik dat die regering optree. Die slagoffers eis ook dat reg moet geskied. Annan sê die neiging bestaan soms dat oortreders ter wille van vrede beskerm word, maar "vergeet en laat ons aanbeweeg", help nie die gemeenskap nie.
Meer as 1 100 mense is dood in die botsings tussen strydende stamme, wat politieke partye in die na-verkiesingsgeweld gesteun het. Honderde duisende mense is gedurende 'n landswye veldtog van moord, wraakaanvalle, verkragting en vernietiging van eiendom uit hulle huise gedwing.
Die botsings is aangeblaas deur die leier van die Oranje Demokratiese Beweging, Raila Odinga, wat President Mwai Kibaki se Party van Nasionale Eenheid van knoeiery met die verkiesing beskuldig het.
Kalmte het ná maande teruggekeer en Annan het 'n ooreenkoms vir 'n regering van nasionale eenheid beding waarvolgens Odinga eerste minister geword het.
Waki sê 'n Spesiale Tribunaal vir Kenia met internasionale deelname behoort ingestel te word om mense, wat by na-verkiesingsgeweld betrokke was, aan te kla.
