Lekota was vol vertroue dat die konvensie daar gehou gaan word, ten spyte van probleme met die plekke vir twee provinsiale konvensies wat in die laaste week voorgekom het. “Ek kan julle verseker dat die konvensie gehou sal word” het Lekota Sondag aan verslaggewers gesê, met die aanduiding dat ‘n nuwe party op 16 Desember aangekondig sal word.
Die voormalige minister van Verdediging het sowat 2000 mense toegespreek by die Vista-universiteitsgronde nadat ‘n beplande vergadering by die Sentrale Universiteit van Tegnologie op Saterdag gekanselleer is.
Volgens Lekota is dit ‘n vrye en demokratiese land, en niemand kan dit onmoontlik maak vir hulle om die konvensie in die Vrystaat of enige ander provinsie te kan hou nie. Lekota, wat ‘n kanselier is van die SUT, sê daar is metodes om te volg as mense wil vergader. “Indien daar mense is wat ons wil intimideer, moet die polisie hulle werk doen” het hy gesê. Vryheid beteken dat enige iemand ‘n vergadering moet kan hou.
Lekota sê dat as daar pogings is om die nasionale konvensie te stop, dit net meer bewyse is van die korrektheid van wat hy sê.
Nog ‘n vergadering in die Vrystaat, in Warburg, is die week gekanselleer nadat die munisipaliteit klaarblyklik geweier het om die plek beskikbaar te stel nadat hulle reeds die betaling vir die gebruik daarvan ontvang het.
Lekota het aangedui dat die vise-kanselier van die SUT, professor Thandwa Mthembu, op sy eie besluit het teen die vergadering nadat al die reëlings reeds getref was. Dit het ingesluit die gebruik van die Boet Troskie-saal wat betaal was. Volgens hom is dit ‘n ernstige oortreding. Die SUT het Sondag in ‘n verklaring sy spyt uitgespreek dat hy in die politieke arena ingetrek word, baie meer en dieper as wat goed is vir sy belange.
Francois Naudé, die SUT-segsman, het gesê dat ‘n openbare entiteit soos die universiteit sy eiendom op eie diskresie sal beskikbaar stel aan die publiek.
“Die universiteit se eksklusiewe diskresie oor wie die perseel mag gebruik, en onder watter omstandighede, is om te verseker dat die beoogde gebruik strook met, en in lyn is, met die universiteit se akademiese mandaat in ‘n demokratiese bestek.”
Naudé het gesê dat Mthembu die aansoek oorweeg het en dit afgekeur het.
Lekota het teruggekap deur te sê dat hulle niks onwettigs beplan het by die Boet Troskie-saal nie, en dat die saak na die SUT se raad geneem sal word.
