Volgens dr. Pieter Mulder het "Luke Watson in die verlede vasgehaak, iets wat blyk uit die feit dat hy op die Springboktrui wat president Mandela as ’n gebaar van versoening reeds in 1995 aangetrek het, wil braak. Beter as Suid-Afrika se Olimpiese span of as die Suid-Afrikaanse sokkerspan was die Suid-Afrikaanse rugbyspan reeds twee keer sedert 1994 as Springbokke wêreldkampioene. In albei gevalle het die Springbokspanne groot oorwinningsoptogte deur die land gehou en is hulle triomfantlik uit alle gemeenskappe ontvang en toegejuig na hulle oorwinnings."
Mulder meen dat daar "geen verskil tussen Luke Watson se snedige en vernederende opmerkings teenoor Afrikaners (Dutchmen) en die snedige en vernederende opmerkings van die groep op Face Book oor Swartes is nie. Hopelik sal die media en die publiek se reaksie op albei hierdie situasies ewe afkeurend wees."
In die lig van Watson se afkeur om vir die Springbokke te speel, is dit seker logies om af te lei dat hy die geld wat hy van die rugby-unie ontvang het na die Springbokwedstryde waarin hy opgetree het, nie vir homself gehou het nie, maar dit vir ontwikkeling of soortgelyke goeie sake geskenk het.
Die VF Plus se uitdaging teenoor mnr. Butana Komphela en Luke Watson bly staan dat hulle hulle standpunte oor die Springbokembleem by die Curriebekereindstryd in Durban moet kom stel. Ná alles is dit die rugbyondersteuners wat daar teenwoordig is, wat honderde rande betaal om rugby finansieel aan die gang te hou en dit vir die borge die moeite werd maak om die sport te ondersteun.
Die Vryheidsfront Plus aanvaar dat rugbyondersteuners in die toekoms ook hulle gevoelens en misnoeë teenoor Luke Watson sal betoon waar hy ook al weer op ’n rugbyveld verskyn. Die VF Plus beoog om 'n petisieveldtog te loods waar Suid-Afrikaners en rugbyliefhebbers hulle sienings oor die Springbokembleem en Luke Watson kan laat hoor.
