Verlede week Donderdag het Lekota nie vir 'n vergadering met Phosa opgedaag nie en Phosa het tevergeefs gewag.
Lekota, een van Mbeki se volgelinge, dreig om uit te loop uit die ANC en 'n nuwe party te stig. Gauteng premier Sam Shilowa, wat reeds bedank het, mag Lekota dalk volg.
Jan-Jan Joubert, van Die Burger, berig dat Phosa gesê het hy is nou moeg vir Lekota se "nonsens" en dat hy dit nie langer gaan verdra nie.
Lekota het 2 500 ontevrede ANC-lede Saterdag in Langa by 'n vergadering opgesweep. Phosa het egter aangedui dat die ontmoeting met Lekota sal voortgaan ten spyte van sy uitsprake oor die naweek.
Joubert berig verder dat die ANC die werk van hulle streeksuitvoerende komitee in Kaapstad opgeskort het en dat hulle gaan optree teen ANC-verteenwoordigers wat Lekota se wegbreekaksie steun.
