’n Swak wisselkoers sal Suid-Afrika se tekort op die lopende rekening nóg groter laat word. Dié tekort moet natuurlik gefinansier word, wat duur kos.
Die Reserwebank se jongste syfers toon dat Suid-Afrika in Julie ’n tekort op die lopende rekening gehad het van R14,3 miljard. In Augustus het dit tot R5,1 miljard gekrimp, maar dié syfer is steeds hoog.
Die meeste ander ontwikkelende lande het oorskotte op hul lopende rekenings en is dus in ’n beter posisie om die huidige finansiële krisis die hoof te bied.

Met die rand se verswakking teenoor die dollar gister, die laagste in sewe jaar, is dit slegte nuus vir motoriste. Selfs al daal die olieprys omdat die vraag na olie afneem soos die ekonomie wêreldwyd verstadig, sal die swak rand veroorsaak dat brandstof duur bly.