Ná die twee keer wat die Amerikaners hulp verleen het aan ‘n kwynende ekonomie verlede week is die Duitse motornywerheid baie ongelukkig. Die regering in Berlyn is van mening dat vrye mededinging deur die stappe van die Amerikaners benadeel kan word.
Vrydagaand het die Amerikaanse huis van verteenwoordigers ná twee rondtes van stemme en baie onderhandeling die 700-miljardhulppakket taanvaar om weer vertroue in die markte te herstel.
Die bewoording van die ooreenkoms maak dit egter moontlik vir die tesourie om enige lenings wat in erge finansiële knyp is uit te koop.
Die Duitsers is bang dat dié tipe hulp die speelvelde, wat voorheen gelyk was, kan omkrap, en met reg ook. Die hoof van General Motors, Rick Wagoner, het sy verskyning op die motorskou in Parys gekanselleer om by Washington te gaan aanklop vir deel van die hulppakket, aldus die BBC. Volgens Der Spiegel is die Duitsers bekommerd dat die 50 miljard euro (67,8 miljard dollar) die Amerikaanse motorvervaardigers heelwat kan versterk.
Verlede Dinsdag het Detroit baie meer direkte hulp ontvang, nadat President Bush wetgewing onderteken het wat ‘n 25-miljardeuro-laerentelening aan motormaatskappye beskikbaar gestel het. Dit is met die doel om vervaardigers te help met die oorskakeling na die vervaardiging van voertuie wat meer ekonomies op brandstof is.
Die hele idee is om regeringshulp aan vervaardigers te verleen sodat hulle die punt kan bereik om motors te maak wat 6,7 liter per 100 kilometer kan haal teen 2020. Skattings rondom die hulp wat daarvoor benodig word, loop so hoog soos 100 miljard euro.
General Motors se hoofoperasionelebeampte, Fritz Henderson, het aan die BBC gesê dat dit nie ‘n skenking is nie maar ‘n lening wat bedoel is om projekte te finansier.
Duitse motorvervaardigers voel egter anders oor die saak. “Ons is gekant teen subsidiëringskompetisies” het Matthias Wissman, hoof van Duitsland se VDA-voertuigindustrievereniging aan die tydskrif Motor Trend gesê in September toe die wetgewing in die Amerikaanse kongres ter tafel gelê is. Anton Weinmann, hoof van die vragmotorvervaardiger MAN het aan Motor Trend gesê: “Daardie soort subsidie het ‘n verwronge kompetisie tot gevolg… in die vervaardigingsbedryf moet mens dinge los vir die vrye mark.”
Europa het ook onlangs die omgewingstandaarde vir motorvervaardigers gelig. Hulle verskil van die VSA s'n wat pleks daarvan om aan die vervaardigers hulp te verleen met die omskakeling, eerder stywe boetes oplê indien die vervaardigers nie aan die wetgewing gehoor wil gee nie.
