Zuma ontken bewerings oor EFF-ontmoeting in Mosambiek

President Jacob Zuma het amptelik bewerings ontken dat hy met lede van die EFF in Mosambiek onderhandel het.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag deur die Demokratiese Alliansie Donderdag, het Zuma ontken dat hy ‘n vergadering by die Southern Sun Hotel in Maputo op 18 Januarie vanjaar na bewering saam met EFF-leiers bygewoon het.

Zuma was amptelik in die Mosambiekse hoofstad op 15 Januarie vir die inhuldiging van Filipe Nyusi as dié land se president.

DA-LP John Steenhuisen het ‘n skriftelike vraag aan die president gestel oor die beweerde Maputo-ontmoeting.

In sy skriftelike antwoord, het Zuma gesê: “Nee. Ek het nie ‘n vergadering in Maputo bygewoon, in Mosambiek op 18 Januarie 2015 nie.”

Bewerings van ‘n vergadering tussen EFF-leiers en ‘n groep van die ANC is in ‘n brief aan EFF-leier Julius Malema deur Gayton McKenzie gemaak.

Maar Zuma se beweerde betrokkenheid by die vergadering het aan die lig gekom tydens ‘n perskonferensie deur sekere beswaarde EFF-lede, wat beweer het dat Zuma veronderstel was om die vergadering by te woon.

Hulle beweer dat die LUR in Gauteng vir onderwys Panyaza Lesufi en ANC-LP Mathole Motshekga gereël het dat Zuma die EFF-leiers in Maputo ontmoet.

Lesufi, Motshekga en die EFF het intussen ook die bewerings ontken.

Volgens Malema hoef hy nie deur ander partye te werk om met die president te vergader nie. “Eerste van alles, Panyaza hoef nie reëlings vir my te maak as ek die president wil ontmoet nie,” het hy gesê.

“Daar is ‘n lyn van kommunikasie. Na afloop van die verkiesing verlede jaar, kan ek Lakela Kaunda [hoofbedryfsbeampte in die Presidensie] skakel en vir haar sê ek wil met die president praat.

3 thoughts on “Zuma ontken bewerings oor EFF-ontmoeting in Mosambiek”

Maak 'n opvolg-bydrae