Die adjunknoodsituasieminister, Toerabek Dzjoenetjalijef sê volgens die jongste syfers is 70 mense in die suide dood en meer as 80 moes dringend hospitaalbehandeling kry terwyl 128 huise verwoes is. Die omvang van die aardbewing wat die afgesonderde Alaiski-distrik van suidelike Kirgistan Sondagaand getref het, het 6,6 geregistreer. Die verwoesting was gekonsentreer op Noera, 'n dorpie met 950 inwoners naby die Sjinese grens.
