Plastiek- en foelieblaasverpakkings met nagemaakte Tramal, 'n sterk pynstiller en 'n vervalste anti-malariamiddel is in groot sakke ontdek, het die doeanebeamptes gesê.
Die medisyne is in drie besendings gestuur van 'n maatskappy in Moembaai en was onderweg na 'n Afrikaland, nadat dit eers in Casablanca, Marokko oorgelaai is.
"Vir sover ons kennis strek, is dit die grootste besending vervalste medisyne wat nog in Europa gekonfiskeer is", het Lieven Muylaert, segsman vir die doeane-en-aksynsdepartement gesê. Hy wou nie 'n waarde heg aan die besending op die ope mark nie.
Doeanebeamptes se agterdog is gewek omdat die pille eerstens nie in kartondose vervoer was nie en verder ook deur spelfoute op die verpakkings.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), verteenwoordig vervalste medikasie met 'n geskatte waarde van 600 miljard rand, sowat 10 % van die globale farmaseutiese nywerheid.
Die hoeveelheid vervalste medikasie wat by Europese grense onderskep is het met 51 % gestyg van verlede jaar nadat dit sowat 400 % gestyg het in 2006.
In Frankryk het sulke onderskeppings, veral van Viagra van Indië af onderweg na Afrika en Latyns-Amerika met 31 % gestyg verlede jaar.

Doeanebeamptes by die Brusselse lughawe het meer as 2 miljoen vervalste tablette en pille gekonfiskeer wat van Indië af na Afrika onderweg was. Dit was die grootste besending medisyne ooit van dié aard, het beamptes gesê.