Die probleem, sê ekonome, is dat kollektiewe paniek 'n groter krisis kan veroorsaak indien almal gelyk hulle spaargeld onttrek vir kontant. Vertroue is die fondament waarop die bankstelsel opgerig is. Daarsonder kan die stelsel nie funksioneer nie.
Die Ierse regering het Woensdag verklaar dat hulle alle deposito's in Ierland sal verseker. Die Franse het by monde van Nicolas Sarkozy 'n soortgelyke onderneming gegee. Maar hoe meer die politici probeer om mense te paai, hoe meer onrustig raak hulle. Banke, in teenstelling met politici, laat hulle kliënte nooit weet as hulle bekommerd voel nie, omdat dit juis paniekonttrekkings kan veroorsaak.
Banke hou ook nie genoeg kontant aan om almal se geld dadelik terug te gee nie. Maar meer nog boesem Gordon Brown geen vertroue by Britte in nie. Die man in die straat hou hom vir die ekonomiese krisis verantwoordelik.
Sover dit die eens gerespekteerde Northern Rock-spaarbank se bankrotskap, die eerste om Brittanje te tref, aangaan, het kliënte die eerste paar dae nie 'n idee gehad van wat aangaan nie en dié kwessie maak die publiek tans lugtig vir wat ander banke mag aanvang.
