"Ek bedank vanweë my oortuigings dat terwyl die ANC die reg het om enige van sy ontplooide kaders te herroep, die besluit op feite gebaseer te wees en om billik en regverdig te wees.
Ek het ook nie gevoel dat ek in staat sou wees om met oortuiging in die openbaar die NUK se besluit oor Thabo Mbeki te verklaar of te verdedig nie."
Hy het ontken dat hy "gedruk" is om te bedank maar het gesê dit het uit beginsel geskied.
"Dit is 'n bekende feit dat ek sterk sienings het oor die manier waarop sy afdanking gebeur het en anders voor te gee sou oneerlik wees," het Shilowa gesê, met verwysing na die ANC-NUK se besluit om Mbeki vanuit sy amp te verwyder.
"Ek erken en respekteer die ANC se reg om enige van sy ontplooide kaders te herroep. Ek is egter van mening daar geen samehangende rede daarvoor bestaan nie."
Shilowa het gerugte ontken dat hy 'n party wil begin of deel van 'n nuwe politieke party sou wees. Volgens sy woordvoerder, Simon Zwane, is en bly hy 'n lid van die ANC, en het hy dit al meer as een keer bevestig.
Dié stelling volg nadat die ANC-provinsialeleierskap hom klaarblyklik oor die vingers getik hetn adat hy regter Chris Nicholson se uitspraak en die stappe om Mbeki as president uit te skuif gekritiseer het.
Die koerant The Star het Maandag berig dat Shilowa deur die ANC gemuilband is, waarna segsman Zwane gesê het dat hy dit wel gelees het, maar nie weet waarvan hulle praat nie.
Die nuut verkose adjunk-president, Baleka Mbete het gesê dat ontevrede ANC lede wat 'n nuwe beweging wil begin hulle tyd mors.
Shilowa het verlede week in 'n onderhoud met die Mail and Guardian gesê dat Nicholson se uitspraak nie gebaseer was op die wet nie. Hy het verder genoem dat Nicholson goed gesê het wat op geen feite gebaseer was nie. Shilowa is van mening dat Nicholson geen bewyse gehad het of getoets het nie.
Shilowa het ook gesê dat hy hoop dat die ANC-leierskap die feite en opinies sal kan skei as hulle die saak verder bespreek. Hy dink persoonlik nie dat die uitspraak enige grondige redes gegee het waarom Mbeki moes loop nie.
Intussen het die Demokratiese Alliansie Maandag gesê dat die onderlinge twis die regering van Gauteng nadelig beïnvloed. Die Gautengse DA-leier, Jack Bloom, sê hy het 'n brief geskryf aan Shilowa om tussenbeide te tree in die bitter twis tussen die LUR van Openbare Werke, Ignatius Jacobs en Sibusiso Buthelezi, ook van die departement.
Die uitval tussen die twee mans het sy grondslag in die toekenning van 'n kontrak van R692 miljoen wat Buthelezi aan Ilima Projects toegeken het om die Jabulani-hospitaal in Soweto te voltooi. Die kontrak is later gekanselleer nadat daar gevind is dat Ilima Projects 'n vals belasting-klaringsertifikaat ingedien het, het Bloom gesê.
Dit is die tweede keer dat hy vir Shilowa geskryf het oor die aangeleentheid, het Bloom bygevoeg. Hy is bekommerd dat Shilowa nie in staat is om op belangrike sake soos dié te reageer nie, aangesien sy posisie as premier in gevaar is vanweë interne ANC-vyande. Die regering van Gauteng lei skade as gevolg van die ANC se interne struwelinge, het Bloom bygevoeg.
