Suid-Afrika is die ekonomiese reus van Afrika en verdien nie ekonomiese en politieke onstabiliteit omdat die bedanking van ministers en die vise-president op ’n amateuragtige wyse hanteer word nie.
Die indruk word geskep dat die twee kante in die ANC kat-en-muis speletjies met mekaar speel terwyl Suid-Afrika se ekonomie benadeel word en die beeld van ’n piesangrepubliek die wêreld ingestuur word.
Vir die presidensie om ’n mediaverklaring die wêreld in te stuur met die name van veertien ministers wat bedank het, nadat hulle versoek is om nie te bedank nie, sonder om die nuwe ANC-leierskap daarin te ken, bevestig hoe diep die verskille binne die ANC steeds is.
Die presidensie behoort te weet dat so ’n verklaring skokgolwe deur die ekonomiese markte sal stuur omdat minister Trevor Manuel se naam daar by is. Dit is duidelik dat die ANC se interne gevegte steeds bo Suid-Afrika se belange gestel word.
As dit later blyk dat sommige ministers bedank omdat hulle die nuwe president wil kans gee om hulle weer aan te stel, herstel die markte, maar is groot skade reeds aangerig.
Die nuwe ANC-leierskap het duidelik nie alle gevolge deurdink toe hulle op ’n oorhaastige wyse mnr. Mbeki teen sy sin uit sy pos geforseer het nie. Nou betaal Suid-Afrika die prys daarvan. Die VF Plus wil ’n beroep op die nuwe ANC-leierskap en die presidensie doen om in belang van Suid-Afrika hulle kleinlike speletjies te los en die oorgang professioneel en gesamentlik te bestuur.
