In weerwil hiervan word verwag dat president Jacob Zuma ANC-uitgeplaasdes in die regering sal verseker dat die party wil hê dat hulle in hul posisies moet aanbly.
Dit kom ná die besluit van die oppermagtige ANC-NUK om Mbeki af te dank na afloop van regter Chris Nicholson se bevinding wat geimpliseer het dat Mbeki, of lede van sy uitvoerende komitee, ingemeng het met die nasionale vervolgingsgesag se besluit om Zuma te vervolg.
Hoewel dit algemeen aanvaar word dat Nicholson se uitspraak 'n skadu oor die integriteit van die kabinet gewerp het, het die kabinet en die NV agterna besluit om teen die regter se beslissing te appèl aan te teken.
Dié besluit het die ANC gedwing om van Mbeki ontslae te raak.
Volgens die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe het die Nicholson-uitspraak die ANC die geleentheid gegee om 'n einde aan Zuma se regsprobleme te maak.
"Die grootste bekommernis vir ons is die kwessie van die moontlike heropening van daardie hoofstuk wat in die openbaar gesluit verklaar is," het Mantashe gesê.
Die saak is, na ons mening, nóg in die openbare nóg in die nasionale belang. Indien die saak voortgesit word, sal dit die verdeeldheid in die ANC op die spits dryf. Dis die hoofkwessie," het hy gesê.
Volgens die City Press-koerant het Mlambo-Ngcuka blykbaar aan haar kollegas in die kabinet en sekere topamptenare in die presidensie gesê dat sy sal bedank die oomblik as Mbeki sy bedankingsbrief oorhandig.
"Mlambo-Ngcuka het nog altyd die komplot teen Zuma verpersoonlik. Ná alles is sy die vrou van Bulelani, die vorige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag. Sy is van dag een af gekritiseer toe sy adjunkpresident geword het. Die helfte van die ministers gaan haar volg," het 'n senior amptenaar in die presidensie gesê.
Sekere van die ministers wat na verwagting saam met Mbeki gaan uitloop, is sy regterhand Essop Pahad, die minister van openbare werke Thoko Didiza, die minister van openbare ondernemings, Alec Erwin, die gesondheidsminister Manto Tshabalala-Msimang en die minister van kommunikasie Ivy Matsepe-Casaburri.
Die minister van finansies Trevor Manuel het reeds aangedui dat hy wil aanbly ondanks vroeëre gerugte dat hy Mbeki gaan volg.
Mlambo-Ngcuka is oorspronklik as Mbeki se adjunk aangestel nadat Zuma in 2005 afgedank is en wou al in die verlede bedank het vanweë die druk en vyandigheid wat sy van Zuma se ondersteuners ervaar het, maar Mbeki het haar aangemoedig om aan te bly.
Tydens die onstuimige NUK-vergadering in Kemptonpark oor die naweek het 'n aantal ministers, waaronder die minister van onderwys Naledi Pandor en die minister van buitelandse sake Nkosazana Dlamini-Zuma, asook Mbeki se raadgewer Joel Netshitenze, geredeneer dat Mbeki toegelaat moet word om sy termy uit te dien.
"Trevor Manuel het nooit 'n woord gesê nie. Nkosazana Dlamini-Zuma was baie onsamehangend. Zola Skweyiya het gesê dat dit vir hom baie pynlik was. Hy het gesê: 'Ek het dié man vir te lank geken. Dis pynlik'," het 'n ander NUK-lid berig.
Aan die ander kant het vervoerminister Jeff Radebe, die behuisingsminister Lindiwe Sisulu, sakeman Tokyo Sexwale, die SAKP-leier Blade Nzimande en ANC-jeugleier Julius Malema die argument ten gunste van Mbeki se afdanking beklink.
Malema het volgens sekere NUK-lede selfs sover gegaan as om te dreig om die jeug te mobiliseer indien die ANC-NUK nie vir Mbeki afdank nie.
'n Ander bron het gesê dat Sexwale aan die vergadering sou gesê het: "Ons kan nie nog 'n dag met dié man saamleef nie."
Zuma, wat Mbeki Vrydag ontmoet het, het aan die vergadering gesê dat Mbeki toegelaat moet word om na die Verenigde Nasies te vlieg om die land te verteenwoordig en slegs by sy terugkeer behoort te bedank.
Intussen is besluit dat mev. Dlamini-Zuma in sy plek New York toe sal gaan.
Pahad het aangedui dat hy uit simpatie met Mbeki sal bedank. Hoewel hy dit nie met Mbeki bespreek het nie, het hy persoonlik besluit om te gaan indien die president aangesê sou word om sy amp te verlaat.
"Ek is deur hom aangestel en daarom sal ek ook bedank indien hy sou bedank," het hy gesê. "Ek dink nie dat dit korrek was nie. Ek dink veel later sal sy groot nalatenskap erken word, dit ly geen twyfel nie. Hy was 'n groot leier vir die ANC en vir dié land. Selfs al wil sommige mense dit nie nou erken nie, sal hulle dit sekerlik iewers in die toekoms erken."
