"Ons in Suid-Afrika is nie agter by die res van die wêreld as dit kom by korporatiewe bestuur en demokrasie nie. King Twee bepaal dat aandeelhouers behoorlik ingelig moet wees sodat hulle besluite by aandeelhouersvergaderings kan neem. Maar Mboweni ag homself bokant die wet."
Pretorius het ook gevra of Mboweni iets het om weg te steek, soos byvoorbeeld die groot salarisverhogings wat hy en sy adjunkte aan hulself toegeken het.
'n Opname van gister se aandeelhouersvergadering is oor RSG gespeel waarin Mboweni duidelik geïrriteer sê: "Ek weet hoe om 'n vergadering te lei! Jy sal stilbly, anders vra ek jou om die vergadering te verlaat."
Hierna het Mboweni die rassekaart gespeel en beweer dat Pretorius met hom gepraat het "soos blankes in die verlede met swartes gepraat het".
Mario Pretorius is die voorsitter van 'n genoteerde maatskappy, Telemasters. Volgens hom sou dit onaanvaarbaar wees vir enige voorsitter of uitvoerende beampte van 'n privaatmaatskappy om so "kavalier" teen sy aandeelhouers op te tree soos Mboweni gister gedoen het.
Pretorius is ook die skrywer van 'n nuusbrief onder die skrywersnaam Dr. Yzterbaard, het hy vanoggend in een van sy gereelde skrywes onthul.
Onder die opskrif "Dr. Yzterbaard wonder oor die goud", spekuleer Pretorius oor waar presies Suid-Afrika se vier miljoen onse, oftewel 100 ton, goud kan wees wat in die Reserwebank se jaarverslag aangedui word.
Blykbaar is dit een van die vrae wat hy aan goewerneur Tito Mboweni wou vra, om aan Reserwebankaandeelhouers te verduidelik waar die goud tans fisies geleë is.
Pretorius het verder die praktyk bevraagteken waardeur Mboweni 'n 25%-salarisverhoging aan homself toeken en 50% aan sy adjunkte, maar verwag dat die res van die land by sy inflasieteikens moet hou. Indien die goewerneur van die Reserwebank nie self sy inflasieteiken ernstig opneem nie, hoe kan van die man op straat verwag word om dieselfde te doen?
'n Ander aandeelhouer, Michael Duerr, wil 'n buitengewone vergadering van Reserwebankaandeelhouers belê. Volgens hom word die waarde van die aandeelhouers se belegging konstant afgewater. Tien persent van aandeelhouers se stemme is nodig om 'n buitengewone vergadering te belê.
Omdat Duerr Duitse burgerskap het, beskou die Reserwebank hom egter as iemand wat nie stemreg by vergaderings het nie. Daarom is hy ook nie gister toegelaat om vrae te stel nie.
