Die gevegte wat sedert Saterdag tussen militantes en die veiligheidsgmagte woed, is die hewigste in twee jaar en het minder as 'n maand ná die herontplooiing van militêre leiers deur president Umaru Yar'Adua begin.
"Die bevelvoerders is nuut en maak van nuwe strategieë in die delta gebruik. Die oues is daarvan beskuldig dat hulle nie proaktief genoeg opgetree het om die gevegte te beëindig nie," het Anywakwee Nsirimovu, direkteur van die Instituut vir menseregte en humanitêre reg gesê.
Prvaatsekerheidsbronne en -analiste meen die soldate het die geveg Saterdag aangeknoop deur 'n grootskaalse offensief teen 'n militante kamp wat lojaal teenoor die faksieleier Farah Dagogo is te loods.
Die faksie het noue bande met die mees prominente militante groep, die beweging vir die emansipasie van die Nigerdelta, oftewel MEND.
"Farah is die spil waarom MEND draai. Hy verteenwoordig MEND in die Rivers-deelstaat, het 'n private brond gesê. "Vir die veldtog om te slaag, moet Farah óf gedood óf gevange geneem word."
Die regeringsmagte meen hulle het nie 'n offensiewe operasie geloods nie en beskuldig die militantes daarvan dat hulle die gevegte ontlok het.
Aangevoer deur Farah se gewapende stryders, het die militantes 'n "olieoorlog" verklaar.
Hulle het pyplyne opgeblaas, asook platforms, gasaanlegte en olievelde, en sodoende 115 000 vate se olieproduksie per dag in die laaste vyf dae tot stilstand gebring – byna ses persent van Nigerië se beraamde produksie in Augustus.
Volgens veiligheidsbronne is dosyne in die gevegte dood.
"Die konflik gaan oor die beheer van oliebronne en die reg om daardie bronne te ontgin," sê Antony Goldman, 'n ontleder by die Londense risikoraadgewers, PM consulting.
MEND bestaan uit 'n losse koalisie van militante groepe wat sê dat hulle vir groter ontwikkeling en 'n beter leefomgewing veg ná dekades van verwaarlosing in die delta.
Maar vele van dié militantes kom van buite die Nigerdelta met lojaliteite wat grootliks afhang van wie die winsgewende handel in gesteelde olie beheer, meer algemeen bekend as oliebunkering.
"Die gevegte gaan oor oliebunkering. Die meeste van hulle is nie van die Nigerdelta nie, maar is buitestaanders," het Nsirimovu gesê.
Farah en nog 'n militante leier, Soboma George, wat albei bande met MEND het, het reeds verskeie kere gebots in gebiedsoorloë oor olie dié somer waarin 10 mense dood is.
Die verval in wet en orde het die onderskeid tussen 'n militant en 'n gewone misdadiger al vaer gemaak.
"Daar is blykbaar 'n direkte korrelasie tussen die hoeveelheid gesteelde olie en die hoeveelheid geweld," sê Goldman.
Sommige beramings stel die hoeveelheid ruolie wat in die gebied gesteel word op 100 000 vate per dag, wat gelykstaande is aan $9,5 miljoen per dag of $3,5 miljard per jaar teen huidige koerse.
Met dié tipe geld vind militante groepe en misdaadbendes dit maklik om vegters te werf in 'n land waar nege uit tien mense op minder as $2 per dag oorleef.
Tot dusver het die konflik binne die Rivers-deelstaat, die rykste in Nigerië, plaasgevind.
Maar die militantes het gedreig om die geweld elders in die delta uit te brei en na die diepsee wat tot dusver as immuun beskou is voordat 'n skouspelagtige MEND-aanval op Shell se Bongaplatform, 120 kilometer ter see, in Junie plaasgevind het.
"Dit wil tog voorkom asof die weermag 'n effense oorhand verkry het," meen die veiligheidsbron, met verwysing na die jongste gevegte.
Maar om die oorlog te wen, is 'n ander saak.
Die gevegsterrein bestaan uit modderige dongas, waarin statjies versprei is waar die militantes breë steun geniet.
Sedert die eerste woelinge in die Nigerdelta in die negentigerjare, het pogings deur die weermag om militante groepe die nekslag toe te dien net die geweld verder laat opvlam en 'n selfs hoër tol geëis.
