Die gedagte dat rassesegregasie (wat ook in die VSA en in al die Britse kolonies in Afrika bestaan het) aan Nazisme of volksmoord gelykgestel kan word, is absurd. Die meeste Afrikaners voel geensins “skuldig oor die verlede” nie. Vele van hulle was onderwysers, lektore, verpleegsters en maatskaplike werksters in die sogenaamde apartheidtyd en beskik daarom oor eerstehandse kennis oor die ou stelsel wat nie op volksmoord gemik was nie, maar op opheffing.
Afrikaners sou die Engelse met Nazi’s vergelyk as gevolg van hul konsentrasiekampbeleid honderd jaar gelede, eerder as hulself. Ook oorreed hul huidige ervaring van plaasmoorde, diskriminasie op grond van taal en ras, naamsveranderings, ensovoort, hulle daarvan dat die ANC-bewind veel nader aan die tradisie van twintigste-eeuse totalitarisme verkeer, soos deur Hitler of Stalin voorgestel, as wat hulle ooit was. Kyk maar net na Mbeki se min of meer openlike steun vir die berugte diktator, Mugabe.
Antjie Krog behoort dit in haar kop te kry dat Verwoerd skole en huise vir swartmense gebou het toe hy nog minister van Bantoesake in die vyftigerjare was; hy het hulle nie vergas, hulle na kampe in Siberië gestuur of massamoord op hulle gepleeg en hulle in massagrafte laat begrawe nie.
Krog hou haar lyf populêre sielkundige deur te beweer dat die jong geslag Afrikaners ’n “surrogaatvader” in De la Rey sien, juis omdat hulle nie met hul eie “Nazi”-vaders kan identifiseer nie. Indien daar enige popsielkunde hierin te lees is, is Antjie Krog se “surrogaatvader” Lord Horatio Herbert Kitchener.
Die gewildheid van “De la Rey” spreek van die versterking van die Afrikaneridentiteit en die wil om weerstand te bied teen die tweede etniese suiwering en verdrywing van die Afrikaner uit Suid-Afrika. Die interessante vraag is watter vorm die Afrikanerstryd teen sy huidige oorheersing wat as openlik en ekstreem gesien kan word, gaan aanneem.

Antjie Krog se jongste uitlatings oor Bok van Blerk se “De la Rey”-lied in die Mail & Guardian toon net weereens in watter mate sy die werklikheid agtergelaat het. Die feit dat sy eens op ’n tyd voorgegee het om ’n Afrikaanse digteres te wees, maar nou ’n anti-Afrikanerpropagandis geword het, kwalifiseer haar geensins om namens ons te praat of maak dat haar ekstremistiese sienings ernstig opgeneem kan word nie.