Volgens diplomatieke bronne heers daar ongelukkigheid binne sekere kringe in die regering self oor die besluit om hom te laat gaan ondanks die immuniteit wat hy as senator teen vervolging geniet. Bemba het die versekering gegee dat hy aan “geen politieke bedrywighede” tydens sy verblyf in Portugal sal deelneem nie.
Bemba se magte, oorblyfsels uit die rebellebeweging wat in ’n oorlog teen Kinshasa (1998-2003) gewikkel was, is verlede maand heeltemal deur regeringsoldate uitgewis. Bloedige gevegte, die ergste nog sedert die verkiesing van 2006 volgens sekere waarnemers, het tot die dood van tussen 200 en 500 mense gelei.
Joernaliste is nietemin deur regeringstroepe daarvan weerhou om foto’s van dooies en gewondes te neem en is by lykshuise en hospitale afgekeer.
Die eerste vier maande van Joseph Kabila se mandaat is nie net deur die algehele verbrokkeling van ’n opposie gekenmerk nie, maar ook deur skermutselings in sowel die weste as ooste van die land. Geen verklaring is voorts deur die regering uitgereik nadat die VN se hoofkwartier en TV-uitsaaistasie in die tydperk aangeval en geplunder is nie. Volgens ’n VN-woorvoerder ontvang hulle gereeld dreigemente en is hulle aan intimidasie blootgestel.
Desondanks die feit dat Kabila deur die EU berispe word vir ’n “voortydige reaksie” en “ontoepaslike” optrede, bly die president ongeërg en voel hy heeltemal geregverdig in sy besluit omdat hy “ten alle koste” orde moes herstel.
Bemba se ondersteuners het gevoel dat hul beoogde inlywing by regeringsmagte die opposisieleier sonder voldoende beskerming sou laat.
Hoe langer sy vertrek egter uitgestel word, hoe meer gekompliseerd raak die kwessie, het ’n diplomaat gekla. Daar is enersyds raadgewers van Kabila wat Bemba graag agter tralies wil sien. Vir gematigdes binne die regering sal dit andersyds nie lei tot die “normalisering” van die politieke landskap nie.
